Watter groei het jou afsondering meegebring - 15 Julie 2020 (Dag 111)
Galasiërs 1:15-18: Maar God het my al voor geboorte vir Hom afgesonder, en Hy het my in Sy genade geroep. Toe Hy in Sy goedheid besluit het om sy Seun aan my te openbaar sodat ek die Evangelie oor Hom onder die heidennasies sou verkondig, het ek nie dadelik daarna mense geraadpleeg of Jerusalem toe gegaan na dié wat voor my al apostels was nie. Nee, ek is Arabië toe, en daarvandaan het ek teruggekom Damaskus toe. Eers drie jaar later het ek Jerusalem toe gegaan …
Hierdie teks is vir my persoonlik baie waardevol. Dit was die teks vir my intreepreek op 9 Desember 1990 nadat ek vir die eerste keer as predikant bevestig is. Vandag kyk ons daarna na aanleiding van die bediening van die apostel Paulus.
Paulus was een van die mees invloedryke persone van alle tye. In die tyd wat hy die aarde deurkruis het met die Evangelie, het hy volgens berekeninge 20 000 kilometer oor see en land afgelê. Hy is dikwels geslaan en gestenig. Hy was in die tronk en het meer as een keer skipbreuk gely. Hy was dikwels honger en dors. Die lyding wat hy deurgegaan het vir die uitbreiding van die Evangelie, is ongeëwenaar. Hy moes ook opstaan teen dwalinge wat die kerk bedreig het vanuit die Jodendom en hy het selfs by geleentheid die apostel Petrus aangespreek omdat hy homself anders voorgedoen het as wat hy werklik was.
Hierdie taaiheid in sy persoon is nie iets wat sommer vanself gekom het nie, hoewel daar tog ‘n genetiese komponent by betrokke moes wees. Wat ons teks egter vir ons sê is dat Paulus, na sy bekering (Handelinge 9) vir drie jaar in die woestyn was. Ons kan ons indink dat die ywerige Paulus na sy bekering nie kon wag om die Evangelie te verkondig nie. Die Here het hom egter vir drie jaar in die woestyn afgesonder om hom voor te berei op sy bediening.
Soos die vlakke van isolasie begin verslap, moet ek myself ook afvra wat die afsondering teweeg gebring het in my verhouding met die Here? Watter verskil het
my ‘woestynervaring’ gebring in my bediening?
Gebed: Here, ek bid dat hierdie tydperk van isolasie nie maar ‘n mors van tyd was in my verhouding met U nie. Gee dat ek U met baie meer ywer sal dien en in die toekoms in dankbaarheid sal terugkyk op my ‘woestynervaring’. Amen
Dr. Enrico Casaleggio
Bloemfontein