Matteus 25:36: Ek was … siek, en julle het my verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek
Dit is veelseggend dat die Here Jesus sê dat ons barmhartigheid met die eindoordeel op die agenda sal wees - die versorging van siekes, armes, gevangenes, wese en weduwees. Om goeie rede sal ons nie in hierdie tyd in hospitale en tronke toegelaat word nie. Dit sou ook ‘n risiko wees om besoekers in tehuise vir bejaardes en kinderhuise toe te laat.
Dit beteken gelukkig nie dat ons hande afgekap is nie. Ons kan steeds bid vir die siekes, die eensames, die bejaardes en die gevangenes. Charles Spurgeon het by geleentheid gesê: “Neglect of private prayer is the locust that devours the strength of the church”. As daar ooit ‘n tyd was om hierdie plaag van biddeloosheid in die kerk aan te spreek, is dit nóú!
Ons sien op die TV hoe dokters en verpleegsters vertel van hulle bekommernis en angs met die hantering van hierdie pandemie. Dit is nie ‘n ongegronde vrees nie. Hulle is die eerste linie wat tussen ons en hierdie siekte staan.
‘n Oud-katkisant van my stuur vir my ‘n boodskap. Haar pa werk vir Korrektiewe Dienste. Dit is ‘n noodsaaklike diens met potensieel hoë blootstelling. Sy vra ek moet vir hom bid. Sy is bitter bekommerd oor hom. Op ‘n klein whattsApp-groepie van my is daar twee lede van die SAPD. Ons as groepie het onderneem dat hulle bo-aan ons gebedslys is. Daarmee saam is daar nog ambulanspersoneel, die verkeersdepartement en die Weermag vir wie ons moet bid.
Mag ons as gelowiges die voorbeeld stel van hoe pasiënte (of familie van pasiënte) behoort op te tree. Mag ons as gelowiges die voorbeeld stel van hoe om met respek teenoor die Polisie en ander gesagsdraers op te tree.
‘n Ou lied uit die Hallelujaboek lui: “Voorwaarts Christen stryders, voorwaarts om te stry…” Dié wat die eerste linie van ons gesondheid vorm, maak absoluut staat daarop dat ons die eerste linie van gebed sal wees. Laat ons op ons knieë hierdie stryd stry en almal aan die Here opdra wat as gevolg van hulle werk blootgestel word aan hierdie siekte.
Gebed:
Here, U is die Groot Geneesheer. Ons verwagting is van U. Ons bid U beskerming af op die dokters, verpleegsters, Polisie, Korrektiewe Dienste, Verkeerspolisie, Weermag en ander wat in hierdie tyd blootgestel word aan hierdie siekte. Amen
Dr. Enrico Casaleggio
Bloemfontein