Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Geestelike ontwaking en afsondering - 15 Mei 2020  (Dag 50) 

Lees: Rigters 6: 1 & 2; 11 – 16; 24 – 34.

Sewe jaar was Israel se selfopgelegde inperking uit vrees vir die gewelddadige strooptogte van die Midianiete. In grotte en verskuilde klowe by stroompies het hulle in Gideon se tyd weggekruip . Al die diere en oeste is deur die Midianiete gestroop. Israel was só verarm dat hulle honger gely het. Gideon is oortuig: Die Here het ons in die steek gelaat.

Dan, in Gideon se afgesonderde moedeloosheid en vrees soek die Here hom op om in die eerste instansie vir hom sake in perspektief te laat sien. In Sy gesprek met Gideon maak Hy hom bewus van die tragiese verwording van Israel se godsdiens. Hulle was besig om ‘n afgryslike mengelmoes godsdiens te beoefen. Aan die een kant het hul nog die Here op ‘n manier gedien en na Hom geroep om hulp, maar saam daarmee was Gideon se eie pa die priester van die Kanaänitiese beskermgod, Baäl. (Magteloos teen die Midianiete) Dan was daar nog langs Baál se altaar die heilige boomstam van die vrugbaarheidsgodin Asjera, om erotisme darem ook in hul godsdiens ‘n plekkie te gee.

Het daar nie miskien gedurende die voorspoedige jare wat ons in die verlede ervaar het een of meer dinge só belangrik vir ons geword dat dit al meer ook vir ons ‘n basis van vertoue saam met ons geloof in die Here geword het nie? Dit kan ‘n persoonlike selfvertroue in ons eie vermoëns met suksesse wat ons in die verlede behaal het, wees. Dit kan die sekuriteit van ons bankbalans of aardse besittings wees. Dit kan selfs die goeie gesondheid wat ons geniet, wees. Op die lange duur het daar egter ‘n afsydige louheid in my totale afhanklike verhouding met die Here ingetree.

In sy ontmoeting met Gideon gee die Here vir hom die opdrag: Gaan speel klaar met die Baäl- en- Asjera-godsdiens. Breek dit af tot op die grond. Jy is nie ‘n muis nie! Jy is ‘n dapper man. Ek wil jou gebruik om jou mense weer terug te bring na My toe. Ek is by jou. Jy hoef nie bang te wees nie. Jy kan My vertrou om My opdragte aan jou uit te voer met waagmoed en sukses.

Ek glo die Here wil Homself ook in hierdie moeilike tyd van afsondering wat ons beleef op ‘n nuwe en intieme manier aan ons bekendmaak. Hy roep ook jou en my om Hom opnuut voluit te vertrou vir die doel en taak wat Hy nog vir ons lewe het. En soos vir Gideon, vra Hy ook van ons gewillige gehoorsaamheid.
LIED 481. 
1   Ontwaak jy wat slaap en staan op uit die dood,
     Laat Christus se lig in jou lewe!
3   Gelukkig is almal wat leef in die lig,
     deur Christus gewek tot die lewe.
     Geen vrees vir die oordeel, die laaste gerig,
     Geen angs vir die dood laat hul bewe.    
     Ontwaak, jy wat slaap en staan op uit die dood!- só roep jou Verlosser, jou redder uit nood.    


Ds. Hannes Smit (Emeritus) 
Kleinmond 
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: