Sinergie in praktyk - Die Koninkryk kom - 16 April 2020 (Dag 21)
Matt 7:21 “Nie elkeen wat vir my sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.”
Met die begrip dat sinergie (om in harmonie saam te werk en die wonderlike vrug daarvan te beleef) die “skat van die koninkryk is” in die agterkop, het ons hierdie week iets daarvan in ons dorp beleef. Reeds vroeg in die tyd van afsondering het ‘n jong vrou, wat die begrip van sinergie goed verstaan, besef dat daar ‘n groot krisis is om te ontwikkel onder die armstes in ons dorp. Hoe gaan hulle deur hierdie 21 dae kom sonder kos?
Sy het dadelik begin om oproepe te maak en boodskappe uit te stuur in ons gemeenskap. Sy het kontak gemaak met kerke, diensorganisasies, maatskaplike werkers, die plaaslike handelskamer en die boerevereniging. Binne ‘n dag het hulle die name en adresse van 200 gesinne gekry wat nie kos het nie. Die volgende dag kon hulle na die besighede en die boere gaan, om almal bewus te maak van die probleem. Op die agste dag van die inperking het ‘n span werkers van die plaaslike munisipaliteit 200 pakkies by hierdie huisies gaan aflewer. Elkeen kon 5kg mieliemeel, 5 kg broodmeel, 5 kg aartappels, 5 mielies, 2 koppe kool en ‘n vars gebakte brood ontvang. Trane van dankbaarheid het gevloei. Die Here het vir hierdie mensies kos by hulle huise laat aflewer toe hulle glad nie geweet het wanneer hulle die volgende bord kos sou kon eet nie.
Na hierdie pakkies afgelewer is, het die munisipaliteit nog 200 gesinne geïdentifiseer wat dringend hulp nodig het. Vanoggend het ‘n pastoor na vore gekom met nog 16 gesinne wat in dieselfde nood verkeer. Boere het melk beskikbaar gestel. ‘n Fabriek wat melkbottels vervaardig, het 1,000 leë literbottels beloof wat vroeg volgende week afgelewer gaan word. Vanoggend het ‘n besigheidsman gebel en nog R10,000 bygedra om die projek verder te laat voortgaan.
Wanneer ons die wil van die Here begin doen, gaan ons die koninkryk van die hemel in. Dan begin beleef ons wat God vir ons in gedagte het – waarvoor Hy ons geskape het. Dan begin ons verstaan wat Hy bedoel het toe Hy gesê het: “Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koningryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”
Martin Brand
Kokstad