Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Van teleurstelling tot bemoediging - 16 Augustus 2020 (Dag 143) 

Lees: Jeremia 15:15-21

Teleurstellings is deel van ons lewe, selfs vir ons as Christene wanneer ons geloof in God ter sprake kom . Alles verloop nie altyd soos ons dit sou wou hê nie, selfs nie wanneer ons bid nie. Ons wil graag leef soos God dit wil maar ons struikel so maklik, veral in ons verhoudings met ander, dikwels met dìe wat die naaste aan ons en ons hulle psigies seer maak. Maar eintlik is dit waar dat ons op al die terreine van die lewe nie leef soos God dit wil nie en die bewuswording daarvan bring teleurstelling in ons self. Eintlik kom die groot teleurstelling wanneer ons besef dat ons God teleurstel.

Ons hoef nie alleen te voel nie. Vir die profeet Jeremia was die lewe nie altyd maklik nie. Sy geboorte het hy gesien as ellende wat hom getref het. Om God se Woord aan ‘n weerstandige volk te bring, was uiters moeilik en met weerstand begroet. Hy was beledig, selfs in ‘n put gegooi om hom dood te maak. Sy bediening as profeet het vrugteloos gelyk. Hy was ‘n eensame mens. Dit alles het hom in ‘n worsteling met God gebring. Hy was seker dat God alles weet. Wat hy deurgaan, is by Hom nie onbekend nie. Hy herinner God daar aan dat dit oor Hom is dat hy beledig word. Hy was ernstig oor God se woorde, wat vir hom ‘n vreugde was. Hy het dit verslind. Van sy kant het hy sy verhouding met God probeer reg hou. Hy kon hom nie vereenselwig met diegene wat geen gevoel vir God se woorde gehad het nie. Maar al hierdie dinge het nie die geestelike pyn wat hy moes ervaar, verhoed nie. Hy staan alleen in sy swaarkry. Iets soos Yancey dit vra: Where is God when it hurts? Hy voel op die ou end dat God hom in die steek gelaat het. En dan sy skokkende woorde aan God: Ek kan nie op U reken nie, net so min as op ‘n stroom wat nie standhoudend is nie.

Miskien kan jy as leser op een of ander wyse met Jeremia identifiseer. Miskien het die Covid 19 jou wêreld klein gemaak sodat jy nie kan wegkom van jouself nie. Miskien is daar dinge in jou lewe as gelowige waar jy met jouself, met God, met die lewe worstel. Jy het nie werk nie. Daar is nie kos op die tafel nie. En wat van die kinders? Miskien is jy ‘n predikant wat wonder of jou bediening werklik die moeite werd was – ‘n moderne Jeremia. Jy sou graag weer vry wou wees om God se Woord te verkondig. Die drang is daar maar jy wonder of jy weer so ‘n kans sal kry anders as maar net ‘n virtuele geleentheid. 

Daar is oor die algemeen talle persoonlike redes vir teleurstelling. En dan is daar die situasie in ons land waar so baie dinge skokkend verkeerd loop. Een groot teleurstelling! Maar ons bid en wil glo dat God tog aan die werk is al lyk dit soms of God Hom aan ons onttrek het. Ons sou egter nie graag sover soos Jeremia wou gaan wat gesê het dat hy God nie kan vertrou nie..

Maar God is daar. Hy tree van sy kant af in gesprek met Jeremia. Hy moet maar sy woorde van teleurstelling terugneem en woorde van waarde spreek en nie onsin kwyt raak nie. God wat alles weet en begrip het vir sy kneg se worsteling , kom en bemoedig hom . Hy verseker Jeremia dat hy hom sal sterk maak teen sy vyande, ‘n bronsmuur. Hy is by hom en sal hom help en red uit die hande van die slegte mense wat met geweld hom bedreig. Ons omstandighede is anders as die van Jeremia. Ons kan egter in alle lewensomstandighede waar ons geloof en die uitlewing daarvan ter sprake kom , leer uit hierdie ervaring van Jeremia. God staan nie onverskillig teenoor ons en die dinge wat vir ons teleurstellings in ons geloof is nie. God hoor as ons bid. Hy weet alles en wil en sal help.. Hierin lê ons bemoediging. Ons hoef nie teleurgesteld te wees nie, veral nie in die Here ons God nie. Hy sal ons nie teleurstel nie. Jesus het mos gesê: Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Wanneer God bemoedig, dan is hoop verseker.

Prof. Kobus Kellerman
Gordonsbaai
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: