Die Kerk draer en bondgenoot van die waarheid - 16 Julie 2020 (Dag 112)
By die oordrag van die verantwoordelikheid van die bediening van die evangelie van Jesus Christus van Paulus na Timotheus (1 Tim 1:18-19), volg daar in die briewe van Paulus aan Timotheus baie duidelike opdragte aan hom en aan die kerk van die toekoms oor die gedrag wat God van ons vra in sy kerk. Dit is duidelik dat een van die hoofdoelstellings van Paulus se eerste brief aan Timotheus in hoofstuk 3:14-16 geformuleer is: “… jy moet weet hoe iemand hom moet gedra in die huishouding van God; dit is die kerk van die lewende God, ‘n pilaar en fondament van die waarheid” (v 15).
Hiervolgens is een van die vernaamste verantwoordelikhede van die kerk te alle tye om in diens van die waarheid te wees; as ‘n pilaar en bolwerk van die waarheid. God het dit goed geag om ons as kerk te roep om hierin die bondgenoot van die enigste ware God te wees; om ‘n toonbeeld van krag en standvastigheid te wees; dit kan alleen gebeur omdat die kerk gebou is op Jesus Christus as ons rots en omdat God sy Gees aan ons gegee het, die Gees van die waarheid!
Wat is die waarheid waarvan Paulus hier praat, en wat ons gedrag moet bepaal? Ons vind dit saamgevat in vers 16, en die eerste aspek wat Paulus noem is dat hierdie waarheid van die evangelie (van ons godsdiens) sonder twyfel vasstaan. Dit staan bo alle teenspraak! Dan volg die beskrywing van die waarheid, op sesvoudige wyse, in wat lyk na ‘n aanhaling van ‘n bekende lied of himne: ‘n getuienis oor Jesus Christus waarin die evangelie poëties en kernagtig saamgevat word:
• Hy is geopenbaar in ‘n menslike liggaam (Ja, God het mens geword!);
• Regverdig bewys deur die Gees (Deur die krag van die Gees is Hy opgewek, en verheerlik as sondelose Seun van God);
• Gesien deur die engele (Hy is in die hemel en op die aarde deur engele gesien en verheerlik, want die aarde en hemel het belang by sy dood en opstanding);
• Verkondig onder nasies (kragtens die groot opdrag van God);
• Geglo in die wêreld ( Hy het gekom vir die wêreld, en sy triomftog strek uit oor alle volke, tale en nasies; niks kan die uitbreiding van sy koninkryk keer nie);
• Opgeneem in heerlikheid (As Koning is sy troon in die hemel vanwaar Hy ons deur sy Woord en Gees regeer en lei).
Hierdie samevatting laat ons dink aan ons Apostoliese geloofsbelydenis of Twaalf artikels as ‘n weergawe of samevatting van die geloofswaarhede.
Dit is duidelik: God het ons betrek by die waarheid van die evangelie van Jesus Christus, by wat op aarde en in die hemel weerklank vind. Op aarde word daar oor Hom gesing en in die hemel gaan lofsange op tot God se eer, want God se waarheid en verlossingswerk is ekumenies (vir die wêreld) en kosmies (vir hemel en aarde).
Die styl en gedrag in die kerk (van wat en hoe ons dinge in die kerk doen) moet pas by die feit dat die kerk ‘n pilaar en fondament van die waarheid is. Die kerk is anders as ander samelewingsverbande; dis uniek. In die tyd waarin ons ons bevind is daar behoefte aan ‘n deeglike en kragtige bediening van en deur die kerk, ‘n behoefte aan die evangelie van God se waarheid en liefde, aan die genade van Jesus Christus en aan die gemeenskap van die Heilige Gees.
Prof Dries du Plooy.
Jeffreysbaai