God is lig - 16 Junie 2020 (Dag 82)
Die apostel Johannes se eerste brief vertoon eintlik meer die eienskappe van ‘n preek as ‘n brief, en die eerste punt van sy vyf-punt preek (soos dit duidelik word uit die preek) is:
“God is lig en geen duisternis is in Hom nie”(1 Joh 1:5). Wat ‘n vertroostende en versterkende boodskap is dit nie! Dit is die eerste sentrale gedagte van sy preek binne die konteks van die doel wat hy met sy preek (brief) het, soos blyk in hoofstuk 5:13:” Dit het ek geskrywe aan julle wat glo sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God”. Dit is gerig aan ‘n tweede geslag Christene wat reeds in die Drie-enige God glo, maar wat vertroosting en versterking nodig het in die moeilike tye waarin hulle gelewe het. Sy Evangelie was nog veral bedoel om mense tot geloof te bring (Johan 20:30-31), maar nou is dit bedoel om die gelowiges te bemoedig en te verseker van God se teenwoordigheid as die groot lig in ons wêreld.
Dis tipies van Johannes dat hy soos ook in sy Evangelie, die motief van lig (God is lig!) besonder beklemtoon. Maar daar is ook ‘n besondere rede waarom Johannes in sy preek (eerste brief veral) eerstens die klem plaas op die feit dat God lig is. Die rede is dat hoewel daar in God geen duisternis is nie, dit wel in ons wêreld nog donker is. Ons lewe nog nie in die hemel of op ‘n nuwe aarde nie. Dis nog sondig en gebroke hier waar ons ons bevind; en in hoofstuk 1 en 2 vertel Johannes ons dan verder wat dit is wat ons lewe en wêreld so donker maak:
· Dis die sonde: Die sonde is ‘n mag hier binne in elkeen van ons wat daartoe lei dat ek nie net my lewe nie, maar dikwels ook my vroue en kinders en my naaste rondom my se lewe moeilik maak en verduister (1:1:8-2:12);
· Die Bose: of die duiwel is ‘n mag wat van buite af teen my en teen die werk van Christus in my en my tot twyfel wil bring (1:2:13);
· Die wêreld: Dis die mag rondom my wat my versoek en verlei (1:2:13-17). Die Heidelbergse kategismus (Sondag 52) noem hierdie drie ons doodsvyande.
· Die Antichris: Dis ‘n mag buite ons en ‘n verpersoonliking van alle gode vyandige magte waarin al ons doodsvyande kulmineer.
Dit is wat ons lewe en werk in die wêreld so donker en soms so somber maak, so deurmekaar en verwarrend en gevaarlik. MAAR, in God is daar geen duisternis nie. Hy het In Christus die duisternis aan die kruis oorwin, toe Hy sy en ons vyande met sy dood en opstanding se mag gebreek het. En daarom word dit nie al donkerder in ons lewe en wêreld nie, maar al ligter, want middernag (met Christus se kruisiging) is verby, en die morester skyn alreeds (Rom 13; 1 Joh2:8).
Ons ervaar nog soveel onvolmaakthede, gebrokenhede in die natuur en in ons lewe en in die werklikheid van ons bestaan, soveel geweld en haat, en noem maar op, maar met ons geloofsoog kan ons ook daarby verby kyk en weet dat God in alles besig is om die lig van sy koninkryk te laat deurbreek. Mag sy koninkryk kom.
Prof. Dries du Plooy
Jeffreysbaai.