Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
So gaan dit maar soms met ons geloof - 16 Mei 2020  (Dag 51) 

Lees:   Joh. 1:35-51
           Matt 14: 22 – 32

Jesus het van tyd tot tyd Sy volgelinge se geloof getoets. In ons oordenking oor die Paasgebeure, het ons gesien dat hulle geloof maar telkens gewankel het – veral in daardie lydensweek totdat Jesus na Sy opstanding aan hulle verskyn het.

Veral in moeilike dae kan ons maklik mistroostig word en begin wonder oor die waarde van ons geloof. ‘n Mens begryp nou maar eenmaal nie waarom gelowiges ook swaarkry en ly nie. Maar lyde is deel van die gebroke wêreld waarin ons leef en dit tref ons ook – soos nou.

Ons kan iets leer uit die geloofstoets van Petrus. Petrus is ’n spieël waarin gelowiges hulleself kan sien. Deur Petrus se geloofsbelewing kan ons onsself leer ken en ’n bietjie anders kyk na ons omstandighede in hierdie virustyd.

Petrus het God se beloftes geken
Uit wat ons lees oor die mens Petrus, kan ons aflei dat hy ’n ywerige en selfs dalk vurige persoon was. Hy was eerste in die klas om te antwoord toe Jesus Sy dissipels in Matt.16 vra wie hulle dink Hy, Jesus is. Petrus was ook die eerste wat gesê het dat hulle sal keer dat Jesus sal ly en toe die soldate kom is hy reg om te baklei. Hy pluk sy swaard uit en slaan Malchus se oor af. Hy was ‘n ywerige en toegewyde dissipel van Jesus. 

Waarskynlik was Petrus voor Jesus se openbare optrede bekend met die prediking van Johannes die Doper. Al was Johannes ‘n Nuwe Testamentiese profeet, was hy die laaste van die lys van die profete wat die koms van Christus verkondig het.

Die profete in die Ou Testament kon aspekte van Jesus se koms beskryf, soos Sagaria wat gesê het dat Jesus op ’n donkie sal ry. Maar, anders as hulle, kon Johannes sê: Daar is Hy – die Messias.

Op grond van die prediking van Johannes, het Petrus geweet van die Messias wat sou kom–daarom gaan hy na Jesus toe saam met Andreas sy broer. Sy lewe begin dus met die verstandelike oortuiging dat Jesus die Christus (Messias) is.

Sy navolging van Christus
Van hier af het hy Jesus begin volg, na Sy prediking geluister en Sy wonderdade gesien. Petrus was altyd prominent in die optredes van Jesus. Hy het eersterangse kennis gehad van wat Jesus gesê en gedoen het. Hy betoon homself as ’n ywerige man, wat oortuig is van sy saak.
• Hy is dus oortuig dat Jesus die Messias is, en
• ywerig in sy navolging.

Maar is dit genoeg vir egte geloof? Is ywerige navolging van Jesus noodwendig egte geloof? Daar is “christene” vandag wat sê dat hulle graag die leerstellings van die voor-Paasfees Jesus volg, maar nie in die na-Paasfees Christus glo nie! Was Petrus so-een? Christus onderwerp hom aan ’n geloofstoets:

Sy geloofstoets
Toe Jesus op die water loop het Hy Petrus na Hom toe geroep. Petrus gehoorsaam. Hy toon vertroue in Christus en hy begin op die water loop. Maar hy word bang en toe sy vertroue kwyn, sink hy. Dit lyk of Petrus sy eerste geloofstoets klaaglik druip – die een wat altyd eerste was om te antwoord.

Herken u uself? Ons geloofsvlam kan soms hoog brand – gewoonlik in die goeie tye. As dit goed gaan is geloof in die Here maklik en ook om Sy naam te bely en as gemeenskap van heiliges in eredienste saam te kom en te aanbid.

Maar wanneer dit moeilik word om Christus te sien en te volg word ons bang en ons begin twyfel. As die onweer kom sien ‘n mens mos nie meer die lig nie. Dan sink ons in twyfel en angs en depressie.

Maar wat gebeur verder?

Die Here los Petrus nie in die water nie. Petrus laat Christus ook nie los nie. Hy roep uit: Here help my! Dit is ’n regte geloofsgebed. Daar is in elkeen van ons se lewe ’n moment waar ons hierdie kort Petrusgebed gebid het.

Petrus slaag tog die geloofstoets! Geloof is nie die oortuiging en die ywer nie, maar om in ’n krisis te kan sê: Here help my! En om dan ook aan Hom vas te hou.
Lyding is deel van die gebroke wêreld waarin ons leef. Ons moet dit nie altyd sien as die straf van God nie. Gelowiges kan ook sink onder moeilike omstandighede.

Maar daar is ’n verskil. Daar is Iemand wat ons vashou en uit die water trek. Ons moet ook aan Hom vashou – sodat wanneer die onweer opklaar ons weer die lig kan sien.

Prof. Koos Vorster
Potchefstroom
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: