Skep moed! - 17 April 2020 (Dag 22)
Skriflesing: Haggai 2:1-5
Teksvers: Haggai 2:4,5
“Maar nou, Serubbabel, skep moed, sê die Here, en jy Jesua seun van Josadak, hoëpriester, skep moed, en julle almal, burgers van die land, skep moed, sê die Here! Begin met die werk, want Ek is by julle, sê die Here die Almagtige.
My belofte wat Ek met die uittog uit Egipte aan julle gemaak het, sal Ek nakom: my Gees sal altyd by julle bly. Moenie bang wees nie!”
Ons moet weet wat die omstandighede/agtergrond was waarin die geskiedenis afspeel. Die volk het teruggekeer uit ballingskap. Jerusalem was in chaos.
Die stad was verwoes, sy mure is omgegooi. Die tempel het in puin gelê. Die volk het aanvanklik net aan eie belange gedink en hulle eie huise herbou. Die profeet Haggai het hulle egter aangevuur om die tempel te herbou.
En hulle het begin werk! Opruimingswerk….en hulle het fondamente gelê. Maar hulle entoesiasme om te bou het nie lank gehou nie, toe raak hulle moeg en moedeloos! Na net vier weke was hulle nie meer lus om te bou nie. Dit was natuurlik baie harder werk as wat hulle gedink het! Hulle was nie gewoond aan hande-arbeid nie en hulle is boonop nie daarvoor vergoed nie. Hulle was vrywilligers. En as die resultaat nou ook nie so goed lyk nie, dan kan mens heeltemal moedeloos raak. Die bouwerk het maar onindrukwekkend gelyk, nie naastenby soos die vorige een, Salomo se tempel van destyds nie. En toe hou hulle sommer op met bou.
Geliefdes, ons moet hulle nie veroordeel nie. Ons herken baie van onsself in hulle optrede. Daar is so baie dinge wat ons spoed breek. Die jaar het goed begin. Met mooi vooruitsigte. Maar dinge het nie heeltemal so uitgewerk soos ons gedink en beplan het nie. Die Covid-19 virus het die hele wêreld in chaos gedompel. Ons is as samelewing vir 3 weke toegesluit – kluishuis-situasie. Die vreemdheid is nou verby. En nou begin die frustrasies groter word. En die bekommernisse ophoop. Oor die virus self – mense word siek en sterf. En dit lyk nie of dit gekeer kan word nie.
Wêreldwyd word duisende mense elke dag geïnfekteer. Ons is bekommerd oor die ekonomie, oor ons werk…oor die toekoms. Ons het tyd om na te dink en te tob. Waarheen is alles oppad? Mense praat oor ‘n nuwe wêreldorde. En dan kom daardie lamheid oor mens – onsekerheid, moeg en moedeloos.
So het God se volk in Haggai se tyd gevoel na net een maand se werk.…..En dan kom die Here en bemoedig sy volk: “Maar nou, Serubbabel, skep moed, sê die Here, en jy Jesua seun van Josadak, hoëpriester, skep moed, en julle almal, burgers van die land, skep moed, sê die Here! Begin met die werk, want Ek is by julle, sê die Here die Almagtige.” Drie maal die bemoediging/versterking…skep moed!!! Serubbabel – die goewerneur, die staatsleier. Jesua – hoëpriester, die kerkleier. En dan die gewone burger. Leiers en gewone mense word bemoedig. Almal. God los nie sy kinders in hulle moedeloosheid nie. Hy is getrou. Hy herinner hulle juis aan sy getrouheid wanneer sy oproep om “Moed te skep” op die een en twintigste van die sewende maand tot die volk deur die profeet Haggai kom. Dit is volgens ons manier van datering die 17de Oktober 520 voor Christus. Dit was nie sommer ‘n gewone dag nie.
Dit was ‘n belangrike datum vir die Jode! Dit was die sewende en die belangrikste dag van die Loofhuttefees. En die sewende maand was boonop ook die maand waarin die tempel van Salomo ingewy is. Die spesifieke datering se boodskap is: moedeloses, onthou met die Loofhuttefees weer hoe getrou die Here is, en skep moed! Hy het nie verander nie. Met die Loofhuttefees het die volk hulle bevryding uit Egipte gevier. Die Here het hulle gered uit Egipte se slawerny. Met ‘n hele klompie seremonies tydens die fees is die Here se trou gedemonstreer. Die uitgiet van water in die tempel was ‘n daaglikse seremonie van die fees wat sewe dae geduur het. ‘n Priester het met ‘n kruik (later ‘n goue een) die water van die Siloamfontein gebring en dan het die hoëpriester die water aan die onderkant van die altaar uitgegooi. Dit moes die volk herinner aan die Here se daaglikse versorging tydens die woestyntog. Hy het telkens water voorsien. Op die laaste dag, die sewende dag, het die seremonie sy hoogtepunt bereik. Water is weer uit die Siloam geskep en is deur die priester in die goue kruik na die tempel gedra. Basuine is geblaas en Psalms is gesing. Die hele seremonie het nie net die volk herinner aan die Here se trou in die verlede nie, dit was ook profeties.
Dit het vorentoe gewys, die toekoms in. Die uitgiet van die water het gewys na die
uitstorting van die Heilige Gees.
Sien u geliefdes, die Here se tydsberekening met die profeet Haggai se woorde is perfek. Op die 17 de Oktober, op die sewende dag en belangrikste dag van die Loofhuttefees, waartydens die water profeties uitgegiet is as teken van die Heilige Gees wat uitgestort moet word, kondig die Here deur sy profeet aan: “Ek is by julle.”
En om enige misverstand te voorkom word bygevoeg: “My belofte wat Ek met die uittog uit Egipte aan julle gemaak het, sal Ek nakom: my Gees sal altyd by julle bly. Moenie bang wees nie.” Die volk kan moed skep. Hulle kan die werk weer aanpak.
Geliefdes, vir ons is die woorde nog ‘n groter en heerliker versterking as vir die Jode van destyds. Hoekom? Want ons lees in Johannes 7:37-39 dat die Here Jesus Homself op die laaste dag van die Loofhuttefees as die ware bron van die water van die lewe aangebied het. Hy het uitgeroep: “As iemand dors het, laat Hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.” En dan word bygevoeg: “Hiermee het Hy na die Gees verwys…..Die Gees was nog nie uitgestort nie. Jesus Christus, as bron van die lewende water het vir ons aan die kruis gesterf. En die Heilige Gees is met Pinkster uitgestort. En wanneer ons in die geloof by die ware Bron, Jesus Christus skep en drink, sal strome lewende water uit ons binneste vloei. Vervul met die Heilige Gees kan ons moed skep en krag ontvang om te doen wat ons moet doen.
Onthou die Here Jesus se belofte aan sy dissipels net voor sy hemelvaart. “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees….(Hand. 1:8a).
Die Heilige Gees gee ons krag, vervul ons met krag. So is God altyd by ons.
Daarom hoef ons nie bang te wees nie. Ons kan in ons omstandighede moed skep en aangaan met ons werk, met ons getuie wees, veral in die tyd waarin ons nou leef deur ons bemoediging van ander.
Moenie bang wees nie. Moenie moedeloos wees nie. Skep moed! Skep moed in jou bekommernis, skep moed in jou moedeloosheid. Die Heilige Gees gee die vermoeides krag! So kan ons met moed aangaan en doen wat ons moet!
Ds. Abri Pelser
Bethlehem