Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Die Gees van God in ons - 17 Augustus 2020 (Dag 144) 

Julle … bly nie in julle sondige aard nie, maar in die Gees – mits die Gees van God werklik in julle woon. Rom 8: 9 Direkte Vertaling (DV).

Die Brief aan die Romeine het een tema: Die genade van God. Die bedoeling van hierdie genade van God, is om sondaars te verander want Vers 6 sê duidelik: die denke van ons sondige aard loop uit op die dood. Die ewige dood. In hiérdie situasie moet daar verandering kom. Daartoe het Hy sy genade in Jesus Christus gestuur. 

Dit is hoofsaaklik die werk van die Heilige Gees om hierdie verandering te bewerkstellig. En tog het elke gelowige 'n aandeel aan hierdie proses van verandering. Dit juis is die onbegryplike: Die aandeel van die Heilige Gees is 'n honderd-persent aandeel. Die aandeel van die mens, is 'n honderd-persent aandeel. Tog moet ek daarvoor TEN VOLLE op die Heilige Gees vertrou. HY moet my verander.

Vers 10 en 11 (DV): Maar as Christus in julle is, is julle liggaam dood as gevolg van die sonde, maar julle gees lewend as gevolg van die regverdiging (vryspraak). As die Gees van Hom wat Jesus uit die dood opgewek het in julle woon, sal Hy wat Christus uit die dood opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak.

Dieselfde krag waarmee Jesus Christus uit die dood opgewek is, werk in ons. Deur hierdie krag kán en móét ons verander. Ek móét verander. Die vraag is net of ek bereid is om die Heilige Gees toe te laat om my te verander, of ek bereid is om myself aan Jesus Christus oor te gee. Want dit vra dat die grote EK van my eie troontjie sal afklim. Dit vra dat ek sal sterf aan myself

Wat gebeur as die Gees van God in die gelowiges woon? Daar is lewe en vrede (vers 6). En hierdie lewe en vrede neem algaande in diepte en omvang toe. Die Gees van God bring egte lewe en egte vrede in dié mens waar Hy inwoon. Hy skenk ware geloof in Jesus Christus. 

Maar waar die Heilige Gees woon, is daar nie nét lewe en vrede nie. Waar Hy is, is Hy werksaam. Hy bring 'n onweerstaanbare verlange na God en die doen van die wil van God. Daarby is die inwoning van die Heilige Gees 'n blywende aanwesigheid. Dit maak van my ʼn kind van God tot wie ek roep: Abba, Vader (vers 15). 

Wat Paulus hier wil beklemtoon, is dat ons as gelowiges reeds uit die ou bestaanswyse oorgebring is na die nuwe. Ons ís in Christus. Ons hét dus die Gees ontvang. Dit is 'n afgehandelde heilsdaad. Paulus kan daarom kategories verklaar: As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Hom nie (vers 9).

En daarmee is ons by die doel van die inwoning van die Heilige Gees. Jesus het dit self gesê: Joh 16: 14: Hy sal My verheerlik. Die Heilige Gees het maar één hartstog: Dat Jesus Christus verheerlik moet word. Die Heilige Gees lei ons na Jesus toe. Net maar sodat ons al méér soos ons Verlosser, Jesus Christus, moet word. In werklikheid woon die Gees van God reeds in ons. As ek weet dat Jesus Christus my verlos het - As ek Hom as Here - Eienaar - in my lewe erken - Dan is dít die bewys dat die Heilige Gees in my woon. 
Die Heilige Gees pas die verandering in ons lewens toe. Dit is 'n heerlike voorreg om te kan vorder op die weg van heiliging – Al meer soos Jesus was - Sy beeld al meer en meer in my. Dit is genade.

Hoe gebeur dit in my lewe. Ek doen dit deur biddend, met my Bybel in die hand vas te stel, hoe God wil hê dat my verhouding met Hom moet wees. Hoe Hy wil hê, dat ek my lewe moet inrig. Ek soek die leiding van die Heilige Gees in die praktiese uitleef van die riglyne wat ek in die Bybel ontdek.

 Mag dit in hierdie tyd van inperking opnuut vir ons werklikheid word. 

Ds. Pieter Strümpfer (Emeritus)
Montanapark, Pretoria.
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: