Hy herstel dit wat gebroke is - 17 Julie 2020 (Dag 113)
Lees: Ps 147
Teks: Ps 147:2 en 3
vs 2: Dit is die Here
wat Jeruslem weer opbou,
wat die verstrooides van Israel
bymekaarbring
vs 3 Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde
Die Here se werk herstel dit wat gebroke is
In hierdie beskrywing van die werk van die Here troon een tema indrukwekkend bo alles uit: God se werk herstel dit wat gebroke is. Dit word in vier trefwoorde uitgedruk.
Die Here bou Jerusalem op. Na oorloë herstel God dit wat beskadig is. Maar hierdie woorde het ook geestelike betekenis. Dit wys op die opbou van die kerk. Die Here bou sy volk en bou die geloof van elke gelowige. Hy is nie ‘n bouer wat eenmaal bou en laat staan nie. Anders as die gode waarin die ou-Oosterse nasiess geglo het openbaar God hom as die alomteenwoordige, die blywende, die een by Mense en die Een tussen mense. Hy bou Sy kerk, die geloof en al die mooie en die goeie om ons – en Hy gaan nie weg nie. Hiervan het Hy ons met sy koms in Christus en die inwonende Heilige Gees verseker.
Nadat Israel deur die vyand verstrooi is het die Here hulle weer versamel. Telkens weer – ook as hulle uit woede vir mekaar uitmekaar spat. God bring wat syne is, bymekaar en hou hulle bymekaar, soos ‘n hen haar kuiken ns….. Dit is waarom die versoeningswerk van Christus gaan. Hy bring bymekaar – God en mens, man en vrou, ouer en kind. Ook die kerk is die vrug van die versoening.
Daarenteen is die duiwel die groot verdeler. Een van sy Griekse name beteken ook verdeler. Hy wil ons wegtrek van God. Hy oorreed ons om van God weg te stap – en dan stap ons ook uitmekaar, uit ons geborge verhoudings. Hy breek op – huwelike, gesinne, families en ook die kerk. En hy gebruik veral ons lewenskrissise as sy versoekingstegnieke om af te breek en uiteen te jaag. En dikwels slaag hy soos met die gelowiges in die Ou Testament. En is ons lewe en verhoudinge!
Maar dan maak God weer bymekaar, want Christus het versoen. As ons na God toe loop, kom ons bymekaar. En dit is moontlik, want Christus wys die pad! En die Gees gee die energie.
Ons weet wat genees beteken. God maak gesond. Ten eerste wys die genesing wys op die verlossing van ons sondige aard gebrokenheid. Verder wys dit op die konstante genesende ingryping in ons lewens. Ons is maar altyd uitgelewer aan viruses – jaloesie, bitterheid, angs, neerslagtigheid, buierigheid, katterigheid en daardie dinge. Ons toets positief vir liefdeloosheid en ons dra dit oor aan ander. Ons word dwaas en neem selfsugtige besluite. Ag, ons word net moeilik om meer saam te leef.
Daarom het ons maar altyd die Geneesheer nodig. As u die simptome sien, roep die Geneesheer in gebed, vra vir genesing, gebruik sy voorskrif (Woord) en vermy die dinge wat siek maak.
Die Here bestry ons dwaasheid en onreg – soms langs vreemde weë.
Ons raak almal een of ander tyd verwond. Soms diep en ernstig. Soos ‘n beseerde lyf verpleging nodig het, so is dit ook met ons hele menswees. Want die mens is meer as vleis en bloed en senuwees. Die mens het, behalwe die lyf baie dinge wat kan seerkry – emosies, gevoelens, hoop, vrede, blydskap en u kan uit lewenservaring veel meer noem.
‘n Mens is nie ‘n ding (something) nie, maar ‘n person (somebody). Verwonding is daarom so maklik.
Maar God verbind die wonde van mense want hulle is na Sy beeld geskape. Hy doen dit self in ons hegte toeganklike verhouding met Hom. Hy gebruik ook sy verpleegpersoneel (mede-gelowiges, ouers, kinders). Hy gee die geneesmiddels as Hy met ons praat en ons na sy woorde (Woord) luister.
Die “verbind van wonde” wys op God se deurlopende sorg en bewaring. Ons lewe is ‘n gevaarpad waarop vele wonde toegedien word. Maar onder alles put ons energie uit God se sorg.
Sy opbou, bymekaarmaak, genesing en versorging is bevestig met Christus se versoeningswerk aan die kruis.
Die Here se werk moet ons ook aanspoor tot diens. En die kern van daardie diens is: herstel dit wat gebroke en siek en verwond in die lewe van mense is.
Ons woorde moet opbou en genees
Ons gesindheid moet wees om bymekaar te maak
Ons dade moet wonde verbind
Prof. Koos Vorster
Potchefstroom