Kyk dwarsdeur my, Here - 17 Junie 2020 (Dag 83)
Lees: Psalm 139: 23-24
God is intiem persoonlik by my betrokke, dit wys Psalm 139: “Die Here omsluit my in liefde: Hy kén my, Hy vang my in liefde, Hý het my gevorm.” As jy dit regtig besef en beleef, sal jy deur Gód se oë na jóú lewe wíl kyk. Jy wil sien wat God sien as Hy in liefde dwarsdeur jou kyk! Sê dit vir God met die laaste woorde van Psalm 139:
Deurgrond my, o God,
deurgrond my hart,
ondersoek my,
sien tog my onrus raak.
Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie
en lei my op die beproefde pad! (Ps 139:23-24)
As jy nou só voor God staan, óóp! . . . , wat laat Hy jou sien?? As jy pleit: “Kyk diep in my of ek nie met verkeerde dinge besig is nie . . . ", en die Here wys jou dinge wat verkeerd is, moenie terugskrik nie. Kyk dit in die oë, erken die verkeerdheid daarvan teenoor jouself, en bely dit voor God, en - MAAK REG!
Jy sal weet wat in jou lewe nie reg is nie. En God weet. En as jy God wat jou kén, en jou altyd weer vang, en jou in jou moederskoot gevorm het, ja van altyd af en tot altyd intiem-persoonlik en liefdevol by jou betrokke is, vra om jou te wys wat verkeerd is, sál Hy jou wys!
Dan sê jy nie net vir die Here jy's jammer nie, maar ook vir die mense wat moes ly onder jou. En: maak reg wat jy verbrou het – sover as wat dit nog moontlik is!
Hierby bring die geniet van God se nabyheid jou uit! Dit maak dat jy moed het vir die toekoms, want dis nie net jou toekoms nie - dis God se toekoms vir en met jou!
Prof. Fika J van Rensburg
Potchefstroom