Leef nou met hoop - 17 Mei 2020 (Dag 52)
Lees: II PETRUS 1:1-15
Die Christelike hoop fokus nie net op die hiernamaals nie. Die Bybel leer dat die gelowige vandag, hier en nou kan leef, met hoop. Sekerheid oor God en Sy verhouding met die gelowige in Jesus Christus. 2 Petrus bemoedig gelowiges. Hulle leef onder moeilike omstandighede. Dwaalleraars pla hulle met dwalinge oor Christus se wederkoms en die invloed wat dit op hulle godsdiens het. Petrus gebruik nie die woord “hoop” nie. Sy hele bemoediging is egter gebou op dinge waarvan die gelowiges seker is. Dit is hulle hoop. Vanweë hierdie sekerhede kan hulle godvrugtig lewe, ten spyte van swaarkry en die dwaalleraars se leringe
As geroepenes van God het hulle 'n kosbare geloof ontvang. Hierdie geloof moet verryk word met Christelike deugde en met kennis. Kennis weer, is deel van die Christelike hoop se fondament.
Die kennis waarna Petrus verwys, is deels 'n algemene verstandskennis. Dit is gebaseer op God se Woord, Jesus se leringe en die Evangelie van Jesus Christus. Dit behels die openbaring dat die Seun van God mens geword het. As God-in-mense-gestalte het Hy die elke-dag-se-lewe van mense leer ken en meegemaak. Hy het na liggaam en siel tydens Sy hele aardse lewe, maar veral teen die einde daarvan, die toorn van God teen die sonde van die hele menslike geslag gedra. Hy is onregverdig veroordeel tot 'n kruisdood. Met helse smarte, van God en mens verlate, het Hy gesterf en is Hy begrawe.
Kennis is ook 'n vaste geloofsvertroue wat lei tot 'n verhouding met Jesus Christus. Dit gebeur wanneer die Heilige Gees my van Bo opnuut laat gebore word. (Joh 3:3). My eie ek, my sondige aard, word saam met Christus gekruisig en begrawe. Deur dieselfde krag waarmee Jesus uit die dood opgewek is, kry ek 'n nuwe natuur wat deur die Heilige Gees beheer word. Ek word Christus se lewe, geregtigheid, geloof en oorwinning oor die sonde, bose en dood deelagtig. Gal 2:16; 2:20 en 3:22. Saam met hierdie genadewerk word ek ook die woonplek van die Drie Enige God. Joh 17:21; 15;6; 1 Korintiërs 6:19. Die hemel is God se woon- en werkplek. Met hierdie werk van die Heilige Gees kom die hemel ook na my toe! As woonplek van God word die gelowige God se natuur deelagtig. (2 Pet 1:4) Die identiteit en wese van God kry gestalte in die karakter van die gelowige. Die Beeld van God is in die gelowige herstel. Aangaande hierdie God sê 1 Joh 1:5 dat Hy Lig is. Geen duisternis is in Hom nie. In hierdie Lig het die gelowige lewe sonder einde. Die gelowige kan nou en hier met hoop leef. Met Lig in en om hom/haar. Oppad na die Lig van die nuwe Jerusalem. (Op 21:23). In die nuwe hemel. Op die nuwe aarde.
Het u al op God se roepstem geantwoord? Leef dan met HOOP se sekerte oor wat God uit genade in Christus Jesus vir u gee. Hy is in u, by u. Niks kan u van Sy krag en liefde skei nie. Hy dra en bewaar u totdat u u erfporsie in ontvangs neem in die nuwe hemel, op 'n nuwe aarde in 'n nuwe verhouding met God. Ons hoop is uit God, deur Hom en tot Hom. Syne is die heerlikheid. Nou en tot in ewigheid. Rom 11:36
Ds. Flip Fourie
George