Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
My erfenis is vir mooi - 18 April 2020  (Dag 23) 

Psalm 16 vertel van ‘n mens wat op God leer hoop het. Die verse in die Psalm wat in mense se geheue bly vassteek het deur die eeue, is die volgende:
“ ‘n Pragtige deel is vir my afgemeet, wat ek ontvang het, is vir my mooi.” 

Of die vertaling waarmee meeste van ons groot geword het:
“Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, my erfenis is vir my mooi.”

In ‘n gemeenskap waar kultuur en godsdiens so hand aan hand geleef het soos die omstandighede waarin ons grootgeword het, kan ‘n mens ons voorgeslag dit vergewe dat hulle hierdie verse baie gereeld gebruik het om ‘n beroep te maak op volksgenote om ons kultuurerfenis en geskiedenis te waardeer en in ere te hou.

Maar die Psalmdigter het ‘n nog kosbaarder erfenis in gedagte gehad het toe hy die woorde geskryf het. In sy geval het hy gepraat oor sy geloofserfenis - dit wat hom ten deel geval het uit sy verbondsverbintenis met God.

My verhaal van hoop aan u wat hierdie stukkie lees in hierdie beproewingstyd is ‘n oorvertel van wat ek by die Psalmdigter geleer het toe ek sy getuienis gelees het. Wat was vir die Psalmdigter so kosbaar , dat hy ‘n psalm daaroor moes skryf? Dit lyk vir ons asof die man in die moeilikheid was. Party mense dink hy het in die tempel kom asiel soek. Daardie dae was die tempel die veilige plek vir ‘n vlugteling: As jy aan een van die pilare van die altaar kom vasgryp het, kon niemand jou aanraak of doodmaak of in hegtenis neem nie.

Hoor net sy openingswoorde: “Neem my in beskerming, o God. Ek soek skuiling by U.” Hy kom veiligheid by sy Here soek. Waarom het hy juis hierheen gekom daarvoor?
Hy het ‘n verhouding met die Here, hy is ‘n verbondskind van die Here. Daarom het hy toegang tot die Here en maak hy aanspraak op die beskerming van die Here.

Hoor hoe hy dit sê: “Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af.” Die digter juig:Ek het ‘n Here na wie ek kan gaan vir beskerming en versorging
Dit is die pragtige deel wat vir hom afgemeet is. Hy sê: “wat ek ontvang het, is vir my mooi.” 

Waarmee stuur hierdie man ons dus op die pad? Niks minder nie as ‘n kosbare geloofserfenis en ‘n oproep tot geloofsoorgawe. Reik uit na God in jou tye van benoudheid en onsekerheid. 

Vertrou God om te voorsien in jou lewensbehoeftes. Is ons by ‘n punt in ons lewe dat baie dinge rondom ons wankel? Geeneen van ons sal die gevolge van die afgelope paar maande se ontwrigting gespaar word nie. Ons sal nog lank moet skerm vir ons gesondheid. Finansiële nood en onsekerheid lê vir baie voor. Miljoene het waarskynlik vir dae reeds geen lewensmiddele nie.
Maar die grendeltyd sal nie net verlies wees, as dit ons terugdwing na die punt waar ons die Psalmdigter ontmoet, waar hy kom vasgryp het aan die Een wat hy leer vertrou het, om vir hom veiligheid en sorg en hoop te gee.

Dan sal ons werklik verstaan van hoe kosbaar ons geloofserfenis regtig is en hierdie tyd gebruik om vir ons opnuut te laat begryp wat Jesus se soenverdienste vir ons alles kom oopsluit het.

Ons geloofserfenis is vir ons inderdaad kosbaar, ver bo korale ……

Ds. Wim Slabbert
Faerie Glen, Pretoria 
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: