Fokus deur die Gees - 18 Augustus 2020 (Dag 145)
FOKUSVERS: Handelinge 7:55 Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het opgekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan.
Het jy al in jou lewe gevoel asof jy jou fokus op die Here Jesus verloor? Asof jy kyk en sien maar nie reg sien nie? Jy sien dit gebeur soms dat 'n mens absoluut gefokus is, en dan gebeur daar iets en binne 'n oogwink verloor jy jou fokus. Iemand het dit treffend vergelyk met 'n venster waardeur jy kyk wat deur 'n klip getref word en bars en kraak wat maak dat jy nie meer so mooi kan sien nie, en omdat jy nie meer kan sien nie, kan jy ook nie meer fokus nie!
Hoe lyk die dinge wat ons fokus laat verloor? Die politieke situasie in die land en die gruwelike korrupsie laat baie mense wankel: My toekoms by die werk lyk vanweë die voortslepende inperkings onseker. Ek weet nie wanneer ek gaan hoor dit is alles verby nie. Persoonlike krisisse van allerlei aard. Helde wat val. Ontgogeling oor die sporthelde wat laag buig voor die “black lives matter” beweging wat baie mense die rug op sport laat draai. Of jy sukkel om finansieel kop bo water te hou en stadig loop die kraak.
Jy sien ons kan die lys al langer maak ……feit is, daar is ongelooflik baie dinge wat kan veroorsaak dat ons ons fokus verloor, dat ons ons motivering as christene verloor, dat ons nie meer die krag van die opstanding van Christus in ons lewens ervaar nie.
En tog is dit nie nodig nie, krisisse hoef nie ons fokus van die Here weg te neem nie! Die vraag is hoe kry 'n mens dit reg om fokus te behou? Die antwoord is eintlik heel eenvoudig! Volg Stefanus se voorbeeld. Wat gebeur met Stefanus? Hy getuig voor die Joodse leiers dat hy Jesus as Seun van God in 'n geopende hemel aan die regterhand van die Vader sien sit. Wanneer hy dit sê spat die ruit vir hom aan skerwe. Hulle gryp hom, sleep hom uit die stad uit en begin hom stenig. Doodgooi met klippe.
Verloor Stefanus in die krisis wat sy lewe bedreig sy fokus? Nee, inteendeel, wanneer 'n mens die teks lees besef jy dat hy in hierdie krisis nog helderder fokus….want hy roep uit: Here Jesus ontvang my gees. Jy sien, in die diepte van sy nood wanneer die ruit besig is om totaal aan flarde te spat, begin hy nie twyfel nie, raak hy nie depressief nie, maar kyk hy nog skerper, sien Hy sy verlosser nog helderder op die troon in die hemel.
En die gevolg daarvan: Wanneer hy sterf bid hy vir die mense wat besig is om hom dood te maak, herhaal hy Jesus se woorde aan die kruis wanneer hy sê: Here, moet hulle hierdie sonde nie toereken nie! Die feit dat hy sy fokus behou, die feit dat hy nog skerper fokus terwyl hy sterf maak dat hy selfs vir sy moordenaars kan bid!
Hoe kry hy dit reg wonder jy dalk? Vers 55 sê: Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees het opgekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien! Vol van die Heilige Gees. Wat Stefanus hier doen doen hy nie uit eie krag nie! Hy doen dit nie op grond van sy sterk geloof nie….Die Heilige Gees stel hom in staat om reg te kyk en skerp te kyk en reg te fokus en aan te hou fokus totdat hy sterf. As hy self moes, sou hy dit menslikerwys nooit reggekry het nie! Wat soos 'n paal bo water staan is dat jy dit nooit self sal regkry nie. Daarom moet jy 'n keuse maak.
Jy en ek moet elke dag kies of ons uit eie krag wil fokus en of ons deur die Gees wil fokus. Dit gaan nie vanself gebeur nie. Jy moet daarvoor kies! Paulus sê: Laat julle lewe deur die Gees van God beheers word, gee julleself ten volle oor aan die beheer van die Gees En dan….dan sal jy soos Stefanus vir jou vyande kan bid! Dan voel jy nie meer die klippe nie en jy sien nie meer die krake nie, dan kan jy deur dit alles kyk en 'n oop hemel sien en Jesus aan die regterhand van God.
Dan raak jy nie depressief oor die politieke situasie en die dalende rand nie….omdat jy deur die krag van die Gees leef en beweeg. Wil jy nie opnuut selfondersoek instel nie? Leef jy regtig onder die beheer van God se Gees? Doen jy dit elke dag van voor af? Dan sal jy nie fokus verloor nie……dan sal jy nooit net in die barste en krake vaskyk nie, jy sal soos wat Piet Smit sing 'n nuwe dag sien, jy sal in doringtakke kan gryp….omdat jy jou krag van die Gees kry….jy sal selfs vir jou vyande kan bid!
Ds. Willem Petzer
Oos-Londen