Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Hoe lank nog? - 18 Julie 2020 (Dag 114) 

Lees Ps. 121 en Joh. 6:60-69 (die aanhalings hier kom uit die direkte vertaling)

Na die lang inperking en die sterftes wat net al meer word wil mens afvra: Hoe lank nog en hoe erg nog? Waar sal die teenmiddel vandaan kom? Saam met die Psalmdigter dan ook: Waar sal my hulp vandaan kom? Dit lyk op menslike vlak asof dit alles neerdrukkende vrae is met baie negatiewe antwoorde. Dit behoort vir die gelowige egter nie so te wees nie.

Die pelgrimsliedere (waarvan hierdie Psalm een is) was liedere wat die Israeliete gesing het terwyl hulle opgetrek het na godsdienstige feeste toe. Logies was hulle aandag op wat voorlê, naamlik ‘n ontmoeting met die Here God. Daarom kon die digter met gloeiende positiwisme antwoord: “My hulp is van die Here, wat hemel en aarde gemaak het” Hy gee dan ‘n rits redes waarom hy met sekerheid so kan antwoord. Die Here sal keer teen struikeling. Die Here sal beskerm teen almal en alles. Wat ‘n wonderlike sekerheid!

Eeue later sou Petrus ‘n soortgelyke tipe antwoord gee waarvan ons in Joh 6:60-69 lees. Baie mense (mense wat hulleself as dissipels van Jesus beskou het!) het erg getwyfel, soveel so dat hulle hulle band met Jesus verbreek het – hulle het Hom verlaat. Dan kom Jesus met ‘n vraag na die wat agterbly: “Julle wil tog seker nie ook weggaan nie?” Petrus antwoord dan in dieselfde gees as die Psalmdigter: ”Here, na wie toe sal ons gaan?” Waar die Psalmdigter net op beskerming gekonsentreer het, kom Petrus met ‘n rede vir sy antwoord wat veel meer inhou. “U het woorde van die ewige lewe” Dit gaan dus nie net om beskerming nie maar om lewe. Die ewige lewe is nie iets wat die Here gee eers as ons sterwe nie. Ons het nou reeds die ewige lewe en in die hiernamaals kry ons dit net in sy volheid. Die werklikheid is dat ons as gelowiges reeds in hierdie lewe nie as geestelike ellendelinge moet lewe nie maar met dankbare en blymoedige toewyding aan ons Here en Verlosser. 

In die omstandighede waarin ons tans lewe is dit juis ‘n wonderlike geleentheid om hierdie lewe wat die Here gee so uit te lewe dat Hy daardeur gedien en geëer word. Dit is slegs moontlik as ons Sy woorde ter harte neem en daaruit en daarvolgens lewe. Ons het ‘n wonderlike Here wat deur sy Woord ons lei in ‘n wonderlike lewe ten spyte van selfs haglike omstandighede. Ons hulp is van Hom, ons lewe is van Hom, ons leiding om dit uit te leef, is van Hom. Is daar dan enige rede (verskoning) om nie voluit tot Sy eer te lewe nie?

Ds. Faf Gertenbach
Jeffreysbaai.
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: