Leer My ken vir wie Ek is - 18 Junie 2020 (Dag 84)
Lees: Luk 7:18-23 (Mat.11:2-6).
(Johannes die Doper) stuur hulle na die Here toe om te vra: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?”
Twyfel en onsekerheid is die aanvalswapen van die duiwel om ons sy magtelose prooi te maak. Wie van ons kan sê dat ons nog nooit aan geestelike waarhede getwyfel het nie. Dit gebeur mos juis dikwels wanneer ons lewensomstandighede nie rooskleurig lyk nie, dat hierdie geestelike Hiëna sy aanvalle op dié wat swak geraak het loods. Selfs Johannes die Doper was nie immuun teen die geestelike virus van twyfel in sy eensame opsluiting in die tronk nie. Toe begin wonder hy: Is Jesus regtig die Messias?
Skielik het Jesus se bediening en optrede in die gemeenskap nie gestrook met wat hy verstaan en gepreek het oor die optrede van die Messias nie. Met sy boeteprediking as wegbereider vir Jesus in die harte van mense, was dit sy taak om hulle bewus te maak van hul sonde voor God en sy verskriklike oordeel. Sy boodskap was: Die Messias gaan die dorsvloer skoon uitwan en al die kaf verbrand, Hy gaan elke boom wat nie vrugte dra nie uitkap… die byl lê al teen die wortel van die boom! So pasop, bekeer julle!
Maar Jesus meng met die tollenaars en sondaars, en kry mense jammer. Sy leefwyse, optrede en gesindheid is sò teenstrydig met wat Johannes verstaan het van wie en wat die Messias sou wees en doen. In sy eensaamheid en swaarkry begin die twyfel knaag. Hoekom begin Jesus nie dadelik met die skoonmaakproses nie. Hy kan sommer by die goddelose koning Herodes wat hom in die tronk gestop het, begin. Maar Jesus gaan rustig voort met sy lering en liefdesdiens aan mense. Waarom los Hy hom net so in die tronk? Wie is Jesus? Het hy hom misgis? Moet daar nog die ware Messias kom?
In hierdie oomblikke van onsekerheid en twyfel was èèn waarheid van God se Woord sy redding. Dit is die feit dat God se Gees nooit sy gelowige kinders in die steek laat nie - ook nie die kleingelowiges nie! Hy dwing vir Johannes om sy antwoord by Jesus self te gaan soek. Dit is mos maar net die Gees van God wat ons in die waarheid lei, wat ons in ons swakheid bystaan.
En sò kry Johannes ‘n vierledige antwoord by Jesus deur sy volgelinge
1. Bly ‘n bietjie in My teenwoordigheid. Leer My ken vir wie Ek is.
2. Luister met groot begrip hoe Ek die mense leer. Luister na My boodskap en verstaan die waarheid van my woorde. Bewaar dit in jul harte.
3. Maak jul oë oop vir my Goddelike Almag. Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek en aan armes word die evangelie verkondig. Ek het gekom om met groot liefde, deernis en erbarming mense te red.
4. Vind jul sekerheid in die waarheid van die Skrif. Gaan lees maar die profesieë oor My in Jes 35:5 en Jes 61:1. Die Skrifte getuig van My.
Met hierdie antwoord nooi Jesus ons opnuut om ook met ons onsekerhede en twyfel na Hom toe te kom, in sy teenwoordigheid ook met sy Woord besig te raak en opnuut deur sy Gees gelei in sy waarheid, ons onsekerhede te besweer.
Ds. Hannes Smit (Emeritus)
Kleinmond