Waarheen, Here? - 18 Mei 2020 (Dag 53)
Lees: JESAJA 45
God praat. Oor Homself. In mensetaal. Met die stem van sy dienskneg:
“Ek het nie in die geheim gepraat iewers in ‘n donker land nie.” [vers 19]
Luister na die swaar belaaide, lewensbelangrike waarheid:
“Ek alleen is God. Daar is geen ander nie. Wat ek sê gebeur. Ja, wat Ek, die Here sê,
bring redding. My woorde gee lewe.” [vers 19]
Almal moet luister:
“Hulle wat hulle afgodsbeelde dra, wat bid tot ‘n god wat nie verlos nie. Almal op aarde.” [verse 20, 22]
Alle mense moet weet daar is net een God wat red. Al die afgode – ekonomie, roem, mag, wetenskap – is magteloos wanneer God werk. En God werk. Hy werk om sy volk te red, want sy is die draer van die Redder van die mensdom. Maar God werk op vreemde manier.
Die kerk van die Ou Verbond sit vasgekelder in die heidense stad Babel. Die land van belofte is in heidense beheer. Jerusalem lê verwoes en onbewoon. Die pragtige plek van aanbidding is platgeslaan. God se volk het geen redder nie; die toekoms is totaal in duisternis gehul.
Dan gebeur ‘n onverklaarbare gebeurtenis: ‘n vyand van God, ‘n magtige heidense vors word gekies om as dienskneg van die Here te funksioneer. God bevestig dit --
“ Die Here Self het hom gesalf, as heerser aangestel.” [vers 1].
Én hom volledig toegerus vir die werk wat hy moet doen. Sodat die Here vir Israel moet vra: “Durf julle aan My voorskryf oor my kinders en oor die werk van my hande?” [vers 11]
Dan lees ons ‘n belangrike waarheid: God doen niks lukraak nie! Sy werk is altyd doelgerig, doelmatig, beplan, vooruit aangekondig. “Wie het wat nou gebeur, lankal aangekondig? Wie het al vantevore gesê dit sal gebeur? Is dit nie Ek, die Here nie?” [vers 21]
En die Here se verhewe doel met hierdie vreemde werksopdrag word verduidelik (hoewel Hy aan geen mens verduideliking verskuldig is nie). “Ek sê vir Kores: Ek het jou as herder aangestel, JY MOET MY WIL UITVOER!” [44:28]. Dis darem duidelike taal. Sy onverklaarbaarste dade is doelgerig; Hy bereik iets daarmee. Hy loop ‘n pad met die mense met wie Hy werk! Hy is in alles op pad na sy heerlike doel. Ook met elkeen van ons. Want Hy werk nie net met sy kerk nie, Hy werk met hemel en aarde.
“So sê die Here wat die hemel geskep het. Hy, wat alleen God is, Hy wat die aarde gevorm en gemaak het, dit gereed gemaak, geskep het, dit gevorm het, nie om leeg te wees nie, maar om bewoon te word.” [vers 18].
Ses werkwoorde moet gebruik word om God se werk aan ons aarde te omvat. So omvattend was sy werk aan ons klein planeet. Waarop Hy die nietige ou mensies geplaas het. Met die wonderlike DOEL: bewoon die aarde wat Hy gemaak het.
Daar word nou naarstiglik gesoek na iemand wat moet pa staan vir die Covid-19 pandemie. Wanneer die skuldige geïdentifiseer is, sal die pandemie egter steeds voortwoeker tot op sy bestemde tyd. Daarom is die sleutelvraag nie: wie is skuldig nie? Dit bring nie genesing nie.
Maar: WAARHEEN IS DIE ENIGSTE GOD MET DIE MENSDOM OP PAD MET HIERDIE DODELIKE WÊRELDVLOEK?
Ek alleen is God. Buiten My is daar geen ander nie!
Dr. Samuel van Vuuren
Drie Riviere