Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Staan regop en lig die kop hoog - 19 April 2020  (Dag 24) 

Lukas 21:5-7; 25-36  
Teks: Lukas 21:25-28   

Toe ons 3 weke gelede met baie streng beheermaatreëls hier en ook elders in die wêreld begin het om die verspreiding van die Koronavirus te bekamp, het ons hele lewe, soos wat ons tot dusver in die land aangegaan het, ingrypend verander.  

Kan u dink wat die gevolge sal wees as die verspreiding van die virus nié effektief bekamp word nie? Wat die ekonomie van die land en in die wêreld betref, is die gevolge al klaar onvoorsienbaar en onberekenbaar groot. Dit sien ons duidelik in al die skommelings op die aandelemark. In die verlede was daar egter ook al groot epidemies waarby miljoene mense in ʼn kort tydsbestek hulle lewens verloor het en lande se ekonomieë ernstig geknou is. Tog het die lewe daarna weer aangegaan en opnuut op dreef gekom. Is sulke dinge soos oorloë en epidemies dan nie maar net die gewone beloop van die lewe nie en in wese maar net dinge wat ons so gou as moontlik en so effektief moontlik agter die rug moet kry sodat die lewe weer kan normaliseer, óf is daar regtig meer en dieper dinge ter sprake, dié dinge waarvan daar in die verseëlde boekrol gepraat word?

So geskok soos wat ons die afgelope tyd geraak het oor al die nuusberigte oor die Koronavirus, só geskok was die dissipels ook toe Jesus vir hulle gesê het wat nog alles met die tempel in Jerusalem sou gebeur! Toe sommige oor die tempel praat, oor die pragtige klippe en gewyde geskenke waarmee dit versier was, het Jesus gesê: “Alles wat julle sien – daar sal ʼn tyd kom dat nie een klip op die ander gelaat sal word nie. Alles sal afgebreek word.” Dis baie skerp gestel: nie een klip sal op die ander gelaat word nie.  

Toe Jeremia destyds moes aankondig dat die tempel in Jerusalem nog verwoes sal word, was hy diep in die moeilikheid, Jer. 26. Volgens die priesters en die profete en die hele volk moes hy die doodstraf kry! Hoe kon hy dit waag om in die Naam van die Here teen die tempel en teen die stad te praat? Nou doen Jesus dieselfde! As nie een klip op die ander gelaat sal word nie, beteken dit totale verwoesting van die tempel en noodwendig ook van die stad. By die eerste reiniging van die tempel, Joh. 2, het Jesus, toe die mense wou weet met watter bevoegdheid Hy by die tempel opgetree het, gesê: “Breek hierdie tempel af en in 3 dae sal Ek hom oprig.” Toe het die Jode dadelik daarop gewys dat daar 46 jaar lank aan die tempel gebou is. Dit wys net hoe sensitief dit was om spesifiek oor die tempel te praat en veral om iets negatiefs van die tempel te sê soos wat Jesus vir sy dissipels gesê het! Nou kan ons ook verstaan waarom die dissipels toe so geskok was en begin dink het aan die einde van die wêreld. Markus 13 sê dat Jesus op die Olyfberg gaan sit het, regoor die tempel en met die tempel in sig het Hy toe geantwoord op hulle vraag oor wanneer dit sal gebeur en wat die teken sal wees van wanneer dit alles voleindig sal word.
In die onderrig wat Hy toe gegee het, is dit duidelik dat daar baie dinge gaan gebeur en dat dit groot dinge is. Tweedens is dit alles ook sigbaar en waarneembaar. Tog is dit nie só dat ʼn mens daaruit kan sien presies wanneer die einde sal wees nie. Matt. 24: “Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.” Baie tekens wat ʼn mens aanspreek en aanraak, maar nie só dat jy n.a.v. die tekens kan sê wanneer dit die laaste dag is nie.  

Met dié paar punte as agtergrond moet ons kortliks kyk hoe die algemene publiek dié dinge hanteer wat gaan kom en hoe die gelowiges dit moet hanteer. Die fokus in vers 25-28 is op die laaste voorlopers van die wederkoms van Christus: tekens aan son, maan en sterre, en op die aarde die gebulder van die see en sy vloedgolwe. Wat die vloedgolwe betref, kan ons maar net dink aan die tsoenami’s waarvan ons al die afgelope dekades gehoor het, vloedgolwe wat raas en alles wat in sy pad staan eenvoudig wegvee.  

Kyk nou na die diep verskil wat Jesus uitwys. “Op die aarde sal daar radeloosheid onder die volke wees uit angs vir die gebulder van die see en sy vloedgolwe. Die mense sal beswyk van vrees en spanning oor die dinge wat oor die hele wêreld aan die kom is.” Teenoor hierdie prentjie van totale hulpeloosheid en magteloosheid stel Hy in vers 28: “As hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want dan is julle verlossing naby.” Regop staan en kop optel, is die houding van iemand wat hoop en sekerheid het en nié deur die dinge wat rondom hom gebeur oorweldig is nie. Dit is nie ontkenning of ontvlugting van die werklikheid nie, maar om dinge juis in die oë te kyk vir wat dit ten diepste is: Christus regeer! Hy kom en ons is deel van sý koninkryk!

Dit gaan eerstens om die duidelike verskil wat Jesus hier uitwys: aan die eenkant die erge graad van paniek en onsekerheid, en aan die anderkant: hoop en versekerde verwagting. Tweedens die vraag wat ons nou al sien van daardie verskil wat Jesus uitgespel het. Uiteindelik sal die verskil duidelik word omdat die wederkoms van Christus so ʼn magtige saak is en met soveel krag sal gebeur. Lees maar net weer wat Op. 6 sê van die oopmaak van die 6de seël. Maar: hoe sal jy dán jou kop kan optel as die rykdom van die verlossing in Christus nie nou al in jou hart leef nie? Daarom moet ons baie mooi kyk hoe ons self nou oor die huidige Korona-krisis dink en hoe ons dit hanteer. Het vrees en paniek ons baas geword? Kyk ons net vas teen die doen en late van mense, die beheermaatreëls wat mense instel, die hulp wat die mediese wetenskap moontlik kan gee om die krisis die hoof te bied met effektiewe medisyne maar intussen raak die winkelrakke leeg deur paniek-aankope? Wag ons maar net totdat die huidige storm verby is sodat ons weer kan aan gaan met ons lewe, óf kyk ons ʼn bietjie verder?

Dit bring ons by die praktiese gelykenis van die vyeboom, waarby Lukas ook voeg: en al die ander bome. Vers 30: “Sodra julle sien dat hulle begin uitloop.” Al sien jy nog glad nie enige vrugte nie, sien jy tog dat die bome begin bot. Juis dié voorbeeld, en nie die voorbeeld van blare wat begin verkleur of afval soos met herfstyd nie. Die bome wat begin bot as onweerlegbare teken dat die somer aan die kom is ongeag die tyd wat dit nog gaan duur totdat die somer regtig daar is. Dan die praktiese toepassing in vers 31: “Net so moet julle ook, wanneer julle al hierdie dinge sien gebeur, weet dat die koninkryk van God naby is.” Wanneer julle al hierdie dinge sien gebeur, ook dié dinge waaroor die ander mense beswyk van vrees en spanning, moet ons dit sien soos botsels wat wys dat die somer op hande is! In Matt. 24 word weer direk gewys op die oorloë en hongersnode en aardbewings en noem dit geboortepyne, die begin van die nuwe tyd. Wie só na die lewe kyk en die botsels sien, kan regop staan en sy kop optel as die ander beswyk van vrees en spanning!

Daarom ook juis die indringende oproep in hierdie profetiese rede om waaksaamheid. Dié waaksaamheid gaan saam met ʼn spesifieke lewensstyl, hoe ons nou van dag tot dag aan-gaan en ons lewens inrig. Vers 34: “Wees op julle hoede dat julle gees nie deur onmatige etery en drinkery en deur die sorge van die lewe afgestomp word nie en dat daardie dag julle nie onverhoeds soos ʼn vangnet oorval nie. Wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan ontvang om deur al hierdie dinge wat gaan gebeur, behoue deur te kom en om voor die Seun van die mens te verskyn.”

Dieselfde oproep tot waaksaamheid hoor ons ook weer in 1 Tes. 5. “Julle is tog almal mense van die lig, mense van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie. Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons wakker bly en nugter wees. Die wat slaap, is van die nag; en die wat hulle dronk drink, is van die nag. Maar ons wat van die dag is, moet nugter wees, ons moet geloof en liefde as borsharnas dra en die hoop op verlossing as helm. God het ons tog nie bestem om gestraf te word nie, maar om deur ons Here Jesus Christus gered te word. Hy het ter wille van ons gesterwe, sodat ons, of ons by sy koms nog lewe of reeds dood is, saam met Hom kan lewe.”  

Hoe gaan dit nog met die Korona-virus in die land verloop? Die vraag wat nog belangriker is, is: leef jy soos iemand van die nag en die duisternis, of leef jy en is jy ʼn mens van die dag? ʼn Masker oor jou mond en neus en die ander maatreëls wat getref is, kan dalk ʼn bietjie help om die verspreiding van die virus te keer, maar die borsharnas en helm beskerm jou lewe, nou én vorentoe! 

As hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle koppe op, want dan is julle verlossing naby!

Ds. Dirk Wijnbeek
Swartruggens
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: