Liefde onbeperk - 19 Augustus 2020 (Dag 146)
‘n Mens se hart krimp inmekaar oor die talle berigte van gesinsgeweld, plaasmoorde, korrupsie en ander wetteloosheid wat tans plaasvind. Die reaksie op sosiale media is ontstellend. Vloek, skel, dreigemente en duidelike tekens van haat en onverdraagsaamheid is aan die orde van die dag. ‘n Oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand is die algemene reaksie. Natuurlik moet oortredings van die wet gestraf word en ons mense het die volste reg om in opstand te kom teem die skynbare onwilligheid en onvermoë van die regering om ons mense, veral die boere en hulle werkers teen die wrede marteling en moorde te beskerm ‘n Gees van mismoedigheid en angs vat pos onder ons en bring onsekerheid oor die toekoms mee. Onmoontlik om te glo, maar al hierdie ongeregtighede en baie meer, vind plaas in ons modern tyd .
Ons kan verstaan dat Lameg in die begin van die mensdom se geskiedenis ‘n wraaklied geskryf het oor geweld bv Kain sal sewe maal gewreek word. (Gen 4:24 ) Die vroeë beskawing het voordele gebring. Daar was ontwikkeling van kultuur, kunste en kundigheid, maar nadele was daar ook. Lameg se grootpratery getuig van egoïsme en verwaandheid; eie waarde waarin God se seën buite rekening gelaat word. Opmerklik hier is ‘n geneigdheid tot vergelding en gebrek aan vergifnis.
God het aan Kain beloof dat as iemand hom wil doodmaak, sy dood sewe maal (ten volle) gestraf sal word. ( Gen 4:15 ). Lameg se wraak neem die reg in eie hande, dit ken geen perke nie. Dit is tiperend van die bloedwraak wat die familie destyds geneem het as vergelding vir die dood van ‘n bloedverwant. In Eks. 21:25, word bepaal dat vergelding tot ‘n wond vir ‘n wond beperk moet wees en nie ‘n familiebloedbad nie.
In die Nuwe Testament vind ons egter ‘n nuwe lewenspatroon. Teenoor die eiemagtige mens se sewe en sewentig keer van wraak, moet Jesus se volgelinge sewentig maal sewe keer vergewe. ( Matt 18: 22). As ware gelowiges, word ons geroep om Jesus se voorbeeld ten opsigte van vergifnis, na te volg. Paulus skryf inderdaad dat Jesus alles kom nuut maak het en dat ons as Sy volgelinge ook so nuut moet leef.
Jesus vertel ‘n gelykenis van ‘n man wat deur sy koning vrygestel is van ‘n miljoen Rand se skuld. Net daarna weier hy egter om iemand wat hom ‘n paar Rand skuld, dit kwyt te skeld. So ‘n gesindheid pas nie by kinders van die Here nie. Ons is almal sondaars en ons skuld by God is ontelbaar. Die wonder van God se genade is dat Hy in en deur Jesus ons vergewe; ons volle rekening vereffen. Daarom is ons verplig, deur ons verbintenis aan Hom, om ons medemens te vergewe. Die huidige omstandighede wat ons ontstel en bedreig, maak ons bekommerd en dikwels kwaad en verbitterd, maar die wraak kom God toe. Die owerheid as dienaar van God het die plig om reg en geregtigheid te laat geskied
Belangrik is om te weet dat ons worsteling met al die lewenssituasies waarin ons, ons bevind, aan God bekend is. Jesus Christus is Koning van die wêreld en Hy is in beheer! Ons is burgers van die Koninkryk van God en het reeds die belofte ontvang dat Hy tot aan die einde van die wêreld met ons sal wees. So ook het ons die opdrag om mense na Jesus te lei en hulle te leer om alles te onderhou wat Hy beveel het.
Kom ons leef soos mense wat bereid is om onbeperk te vergewe, tot in die oneindigheid toe, volgens die voorbeeld van ons Heiland en Meester. Mag ons liefdesharte hê en ander hoër as onsself ag, mekaar volhardend respekteer en vergewe. En die wraak? Vertrou God wat bevestig het dat dit Sy reg is om te straf. Hy sal vergeld en verder oor Sy volk oordeel. Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te verval’ ( Hebr 10:30,31 ).
Ds. Herklaas Viljoen (Emeritus)
Bela-Bela.