Geloofsonderskeiding bevestig hoop! - 19 Julie 2020 (Dag 115)
In geloofsonderskeiding gaan dit ten diepste om die ontdekking van God Drie-enig se wil vir ons daaglikse lewe. Dit veronderstel dat ons sal luister, ja ook saam sal luister en met die nodige geduld sal wag op die Here totdat die Gees ons oortuig om vorentoe te beweeg.
Die soeke na God se wil vir ons, is ’n proses van deurlopende geloofsonderskeiding. Ons moet biddend met ’n leerbare gees en sensitief vir die Heilige Gees leer om te luister: Na God, na mekaar, na die wêreld (konteks) en na omstandighede. Hierin speel stiltetyd, omgeegroepe, Wandel in Woord, en Wandel in die wêreld ’n belangrike rol.
In die Johannes evangelie, Joh 6:38-40 word verduidelik dat Jesus God se Gestuurde is wat sy Vader se wil tussen ons kom doen. Dit is sy identiteit. Hy is God se Geliefde en God se Gestuurde. In Johannes 3 vers 16 word Jesus as gestuurde die sigbare uitdrukking van God se liefdeshart vir sy wêreld. Omdat Jesus die betekenis van sy aardse bestaan in sy identiteit as God se geliefde Kind en Gestuurde gevind het, was Hy vol vrede en vreugde.
Frederik Marais sê: “Om in die geloof te onderskei en tot ’n nuwe oortuiging te kom is onder meer ook ’n denkproses wat redelike denke insluit, nie uitsluit nie... Onderskeiding vra van ons dieper en onderskeidende vlakke van nadenke”. Indien ons glo, beteken dit beslis nie dat ons ophou om te dink nie. Dit is immers juis ons denke wat vernuwe moet word.
Geloofsonderskeiding vra dus juis dat ons ons Vader se koninkryk in ons gedagtes moet hou om sodoende ’n helder prentjie te sien van dit wat ons juis nie kan sien nie. Ons denke in geloofsonderskeiding is dus gefokus op dié vrae wat ons help om na God te vra en sy betrokkenheid by ons as sy gestuurdes, beter te verstaan. Die verskil lê in die fokus van ons denke, nie in die denkproses self nie. Daarom is ons in geloofsonderskeiding besig met die vrae oor wie God is en waarmee Hy besig is asook waar Hy alreeds aan die werk is in ons konteks en lewe.
Die bediening, dit waarmee ons daagliks mee besig is waarbinne die Sturende God ons geroep het om as gestuurdes ’n verskil in te maak, is binne ’n bepaalde konteks wat die hele tyd aan die verander is. As ons en die bediening waarbinne ons staan nie geloofsonderskeidend en in afhanklikheid, daagliks na God se wil vra nie, is die kanse goed dat ons besig raak en bly met ons eie planne. In ons bediening raak ons weer nederig en afhanklik van God se stem.
Die Bybel is juis die verhaal van God se sending na die wêreld toe. God kruip nie in die kerk weg nie. Hy laat sy koninkryk juis in die alledaagse lewe kom – daar waar Petrus en jy en ek God op sy woord neem en ons nette laat sak en met ons woorde, en veral met ons verhoudings en ons dade, mense nooi om deel te wees van God se groot boodskap van liefde en omgee.
Dit skep juis hoop! Die klem gaan al meer val op gebed, die Woord en op geloofsonderskeiding. Dit sal ons help om beter en met meer onderskeiding ons daaglikse gestuurheid uit te leef op alle vlakke van die lewe.
Ons staan in ’n vennootskap met God wat in sy Wese gestuurd is! God die Vader stuur die Seun, God die Vader en die Seun stuur die Heilige Gees; God die Vader en die Seun en Heilige Gees stuur ons! Dit is meer as net ’n opdrag, of ’n roeping; dit is ’n bondgenootskap (verhouding) tussen God onderling en God en mens! Ons deel in God se sending ook in die onseker tyd! As gestuurdes is ons juis hoopdraers!
Ons leef in ’n uitdagende tyd en deel in die uitdagings wat hier en nou aan ons asook die kerk van Jesus gestel word! Dit gaan oor ‘n nuwe era van gestuurdheid; ‘n tydvak waar God ons uitnooi om saam met Hom te deel in sy sending vir die wêreld. Hierdie is egter ’n pelgrimsreis, en nie bloot ’n program om van punt A na B te kom nie. Op hierdie reis maak ons baie ontdekkings en aanpassings en soek ons luisterend saam na God se wil. Dit vind hoofsaaklik op twee vlakke plaas:
• Wandel in die Woord! (Hoe hoor ons God?)
God maak Homself, sy wil en sy liefde aan ons bekend deur die Woord, maar ook deur hoe ons God se Woord verstaan en by mekaar hoor. Ons hoor God dus deur fyn te luister na wat die Heilige Gees vir ons deur sy Woord, deur mekaar, deur omstandighede en deur die gemeenskap sê.
• Wandel in die wêreld! (Hoeveel hoor ons die wêreld waarin ons daagliks lewe)
God is reeds in die wêreld besig. As ons ons oë en ore oophou, sal ons talle plekke en vennote vind waardeur God werk. Ons is nie op onsself gerig nie, maar op God. Daarom is ons dienend op die wêreld gerig! Ons word gestuur en deel in die voorreg en roeping van God met en in die wêreld.
Geloofsonderskeiding bevestig hoop!
Die vraag is nou: na wie stuur God ons? Na wie moet ons gaan luister? Saam met wie moet ons gaan waag en saamwerk veral in die uitdagende tye om ‘n verskil maak? Waar is God reeds aan die werk, en watter formele of informele vennootskappe moet ons in die gemeenskap sluit?
Kom ons fokus weer op ons eie geloofsonderskeiding en bevestig weer ons hoop in die uitdagende tye!
Dr Jan Botha
Mootvallei, Pretoria