Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Getuie wees ten tyde van inperking - 19 Junie 2020  (Dag 85) 

Lees: Filippense 1: 12 – 14 

Oor die wêreld heen het ‘n lewensgevaarlike pes skielik verskyn. Om sy verwoesting te keer en te beheer het owerhede beperkings (soms drakonies) daargestel. Ons beleef ‘n nuwe, onbekende en veranderende wêreld met miljoene noodlydendes waarvan ons deel geword het. 

In die lewe van die apostel Paulus het hy hom dikwels in erg beperkende omstandighede bevind. Dit het hom nooit teruggehou om te getuig nie. God het hom immers gekies “… as my werktuig om my Naam uit te dra onder die heidennasies en hulle konings en ook onder Israel. Ek self sal vir hom wys hoeveel hy vir my Naam moet ly” (Hand 9 :15b/6). 

Sy dryfkrag was sy onoorwinlike geloof in sy Verlosser, Jesus Christus. Vir hom was die lewe Christus. Sy passie was om Christus onbevrees, onbeskaamd, oral en aan almal te verkondig. Hy was dikwels vir korter of langer tye in tronke, het erge lyding ervaar as gevolg van die omstandighede waarin hy hom bevind het, en moes ook stryd voer met die doring in sy vlees. In sy blydskapbrief aan die Filippense beskryf hy oor sy tronkervaring : “…dat wat my oorgekom het juis die verkondiging van die evangelie bevorder het ”(Fil 1 : 12). 

Hy het elke geleentheid benut om te getuig. Hy en Silas word gemartel en in Filippi in die tronk gestop (Hand 16 : 16vv). Met hul voete in ‘n houtblok vasgeklem bid hulle teen middernag en sing hulle tot lof van die Here. Treffend lees ons (v 25b) : “Die ander gevangenes het na hulle geluister.” Na hul wonderbare bevryding die nag lei hy en Silas die tronkbewaarder en sy huisgesin na Christus en word almal in sy huis gedoop. “Hy en sy hele huisgesin was vol blydskap omdat hulle nou in God geglo het” (34). Hy bemoedig ook gelowiges in Lida se huis. Hoe nodig het hulle dit nie gehad nie? (40). Hy wys die owerhede tereg. Elkeen het die reg op vryheid en om aangehoor te word (38/39). 

Paulus preek nie net nie, maar hy voer ook Jesus se opdrag in Matt 25: 34vv uit. Hy het medelye met dié in nood. Hy ken armoede en weet wat dit is om honger en gebrek te ly (Fil 4 : 10vv). Hy vra dat ons nie moeg moet word om aan almal goed te doen nie (Gal 6 :9-10). 

Hoe sou Paulus in ons wêreld van 2020 getuig het? Hy sou hom sekerlik met liggaam en gees daaraan gewy het om mense na Christus te lei. Hul geloof te versterk. Verder sou hy na alle mense volgens elkeen se behoeftes en nood uitgereik het. Sekerlik sou hy die owerhede ook aangespreek het. Hy sou ook by ons, by jou en my, ten spyte van ons eie inperking, gepleit het om liefde en hoop te bring. Iets soos: Gaan en wees ‘n barmhartige Samaritaan en neem/gee (nog!) iets, al is dit hoe gering en in watter vorm ook al, uit dit wat jy het om te bied, en steek die Rubicon oor! “Julle gawe is voor God ‘n offer met lieflike geur…. Aan ons God en Vader kom die heerlikheid toe tot in alle ewigheid! Amen.” ; (Fil 4:18b,20). 

Dr. Sarel Terblanche (Emeritus) 
Alberton 
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: