Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Kyk met nuwe oë na die toekoms - 19 Mei 2020  (Dag 54) 

• “Hierdie nuus is bedoel om mense wat moedeloos geword het, op te beur; en die wat voel dat hulle net nie verder kan nie omdat alles net te veel geword het, moed in te praat sodat hulle met nuwe oë na die toekoms kan kyk” (Jes.35:3. DB).

“Die toekoms sal ná Covid-19 nooit weer dieselfde wees nie”. Dis die algemene uitspraak van “kenners” oor die hele wêreld. Polities, ekonomies, godsdienstig, maatskaplik…., alles gaan verander. 

Maar hoe die toekoms gaan lyk, kan niemand sê nie. 

Aan die een kant ervaar ons soveel brutaliteit, opgekropte woede, rassehaat, wat ons land laat steier. Dit voel of ons jare teruggesit word en ook maatskaplik in ’n rommelstatus verval het.

Maar aan die anderkant glo ons dat die goeie uit die slegte gebore gaan word, want soos nog nooit tevore nie steek mense hulle hande uit na arm en honger mense. Niemand word weggewys nie. In elke dorp, kerk en stad reik mense uit na hulle wat nie het nie. En hulle doen dit met die grootste liefde en deernis vir hulle medemens. Die diensbaarheid en ook die dankbaarheid van mense gryp jou aan.

Jesaja 35 is ’n hoofstuk van hoop. Dit lei ’n nuwe bedeling in. Teenoor al die ellende en slegte dinge wat gebeur, teenoor ’n verskriklike droogte wat die land tref en wat alles en almal laat treur en verdor (Jes.33:9), kom Jes.35 met die boodskap: “Die woestyn, die dor land sal jubel, die droë wêreld sal juig…. Israel sal die mag van die HERE sien, die koninklike mag van ons God (:2). God is en bly in beheer van sy volk en sy kinders. Daarom gee Hy vir ons moed: “Bemoedig dié wie se hande slap hang, help dié wie se knieë knik, sê vir dié wat moed verloor het: Wees sterk, moenie bang wees nie, julle God is hier (vgl. Jes.40:9; 41:10; Ps.46)… Hy kom julle red!… Strome water sal uit die woestyn uit bars; daar sal riviere loop in die droë wêreld…” (Jes.35:4b-6).

God is in elke krisis teenwoordig. Covid-19 sál verbygaan, ons weet nie wanneer nie en ons weet ook nie na hoeveel sterftes nie. Daarom hou ons vas aan elke anker van hoop. Die vertaling van “Die Boodskap” oor Jes.35:4 kry vir ons nuwe betekenis: “Hierdie nuus is bedoel om mense wat moedeloos geword het, op te beur; en die wat voel dat hulle net nie verder kan nie omdat alles net te veel geword het, moed in te praat sodat hulle met nuwe oë na die toekoms kan kyk” (Jes.35:3. DB).

Veertien jaar gelede het ek ’n boekie geskryf met die titel: “Om deur God se oë te kyk”. Daarin het ek vertel van my geloofsworsteling oor ons kleindogter wat op 15 maande gediagnoseer is met breinkanker. Vir 5 maande lank was ons dag en nag in gebed op ons knieë voor die HERE. Ons het gepleit vir haar genesing en geglo dat die HERE haar gesond sou maak. Maar op 20 maande het sy gesterf. Hoe verstaan ons die weë van die HERE? 

Ons kan alleen met nuwe oë na die toekoms kyk, as ons deur die oë van Jesus daarna kyk. Deur ons eie traangevulde oë is alles dof en donker en maak dit nie sin nie. Maar as ons deur Jesus se oë kyk, dan beur dit ons op uit ons moedeloosheid. As jy dus voel jy kan nie verder nie omdat alles vir jou te veel geword het, is daar vir jou goeie nuus: Jy is in die hand van die HERE, Hy het jou lief en Hy praat jou moed in sodat jy met nuwe oë, deur Jesus se oë, vorentoe kan kyk. Want Hy het gesê:” Kyk, Ek maak alles nuut!” Dit gee vir jou hoop en troos en vul jou met ’n nuwe verwagting op ’n nuwe môre.

Ds. Attie Beetge
Stellenbosch.
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: