God bewaar ons - 2 Augustus 2020 (Dag 129)
Lees: Joh 17
Teks: Joh 17:12 – 16
Jesus het gebid dat God ons moet bewaar. Daarom moet ons rustig wees!
Allerlei doemprofesieë doen nou al weer die rondte. Staar ons groot armoede en hongersnood in die gesig? Gaan ons inkomste dit hou? Stuur ons af op ‘n totalitêre staat? Hoe gaan ons kinders en vriende oorleef? Sulke soort vrae duik gewoonlik op wanneer mense onder druk is – soos nou. Dan neem onrus toe en vrae word gevra.
Die aand voor Sy kruisiging sluit Jesus sy onderrig aan die dissipels af. Vir drie jaar het hy hulle geleer. Nou staan hy voor die kruis. Hy sluit die dag af met ’n aangrypende gebed. Dit is ’n gebed vir: “...die wat U my gegee het...” vs 9. Dit is ‘n gebed vir sy dissipels en ook vir almal wat deur hulle woorde tot geloof kom en sal kom (vs 20). Hy bid dus nie net vir hulle nie, maar vir almal wat aan Hom behoort. Vir ons. Vir ons kinders. Vir ons kleinkinders. Vir die gelowiges oor die hele wêreld heen. Hy bid vir die kerke oor al die eeue.
In die gebed word die kerngedagtes van sy prediking weer helder en duidelik uitgespel. Christus bid vir verskillende dinge – bekering van mense, eenheid, geloof, blydskap, ja alles wat Hy vir ons as gebroke mense verwerf het.
Deur sy bedes loop daar die pleidooi dat God ons moet bewaar. Ons weet wat dit beteken om iets te bewaar. Ons het elkeen ook ‘n kosbare kleinood wat ons bewaar. Ons kyk daarna, ons pas dit op, ons versorg dit. Die bewaring waarvoor Christus bid is soortgelyk.
Hy bid dat ons bewaar word van:
- Die bose, want die kwaad van ons aan in die tye van nood en die verleiding om verkeerd te doen en te dink is altyd met ons. En ons struikel so maklik!
- Van twyfel, want ons raak so maklik onseker en verward oor ons kindskap van God en oor ons geloof en oor hoop.
- Angs, want ons word maklik bang as die lewenswolke saampak en as die mense om ons, ons bang praat.
- Hy bid dat ons bewaar word in:
- Beproewing en dat ons staande sal bly in tye van nood en swaarkry.
- Ons daaglikse stryd teen twyfel of God regtig alles onder beheer het in die onverklaarbare dinge wat soms met my gebeur. Is Hy regtig aan my kant?
- Die stryd teen kleingeloof.
Die gebed is deur God verhoor en die bewys daarvan sien ons in die Pinkstergebeure. Die Gees van God en van Christus word uitgestort om ons te kom bewaar soos hierbo beskrywe. Vir hierdie bewaring stuur hy die Gees op Pinkster.
Die Gees is by ons en bewaar ons soos ‘n kleinood op elke lewenstree. Ons is nooit alleen nie. Die Gees is in ons om dit wat Christus vir ons verwerf het aanhoudend toe te dien soos ‘n sieke aan ‘n drup.
Daarom kan ons voortgaan en vasstaan. Daarom is daar altyd hoop. Daarom sal dit met ons kinders en ons kleinkindres goedgaan. Daarom is ons nooit alleen nie al is ons in ‘n grendeltyd.
Ons het ‘n bewaarder langs ons oppad.
Daarom kan ons sing in Ps 138:4:
“As in my angs en teëspoed
die krag en moed my wil begewe
As vyande van veglus brand
dan keer U hand
en red my lewe”
Hou moed! Jesus het op die aand voor sy kruisiging vir u gebid!
Hou koers! Die Heilige Gees loop saam.
Prof. Koos Vorster
Potchefstroom