Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Ek glo, kom my ongeloof te hulp - 2 Mei 2020  (Dag 37) 

Lees:1 Kon.19:3-8, 15 en Mark.9:20-27

Ons lewenspad is nie altyd gelyk en reguit nie. Op ons lewenspad is dikwels berge, draaie, gate, slote, opdraandes. Dikwels beland ons in ‘n doodloop straat. Ons worstel dikwels met siekte, pyn, spanning, broodsgebrek, ‘n huwelik wat nie werk nie, trane, die dood.

Soms kom daar skielik ‘n verandering in ons lewe. Die lig word skielik duisternis. Die vreugde word droefheid. Die lag ‘n traan. Hoe dikwels gebeur dit nie dat ‘n kind vandag gebore word en môre sterf daardie kind. ‘n Atleet ontvang vandag ‘n goue medalje môre sit sy in ‘n rystoel. Vandag is jy nog gesond ‘n paar dae later hoor jy jy het kanker… en menslik gesproke het jy net ‘n kort tydjie om nog te leef. Op 1 Januarie 2020 was ons almal nog vol verwagting met betrekking tot die nuwe jaar. En nou, ‘n paar maande later? Die ganse wêreld gedompel in ‘n onpeilbare duisternis, ‘n onvoorspelbare toekoms. Oor die miljoen mense besmet met Covid-19. Reeds oor die 200 000 gesterf. Wêreld ekonomie en groei kom tot stilstand. Wat vorentoe? Niemand weet nie.

 Gelukkig is ons gelowiges. Ons geloof is so sterk dat ons saam met ‘n Dawid van ouds kan uitroep: Met my God spring ek oor ‘n muur. Al gaan ek in ‘n dal van doodskaduwee sal ek nie bang wees nie want God is met my. Soos Paulus is ek seker niks sal my van die liefde van God skei nie. Soos Elia staan ek moedig voor die hele land se afgode. Soos die pa van wie ons gelees het, is ek absoluut oortuig Jesus sal my kind genees. Maar nou gebeur dit ook dikwels dat ons vandag nog sterk staan in die geloof maar môre verval ons in totale kleingeloof en ongeloof. Die pad word vir ons te lank. Ons vrag word te swaar. Ons probeer hard maar kom nie vorentoe nie. Ons skreeu maar niemand antwoord nie. Die lewe is vir my een donker gat.

Feitlik elke mens ken sulke donker oomblikke. Elia was een dag nog vol geloof en manmoedig voor die hele Israel en die ganse mag van Baalpriesters. Twee dae verder, slegs na die dreigemente van die koning se vrou, lê hy moedeloos onder ‘n braambos en roep uit dat die pad vir hom te lank geword het, dat hy maar liewer wil sterf (1 Kon.19:4). Jesus sê vir die man in Mark.9 wat sy seun na hom gebring het, as hy glo, is sy kind se genesing moontlik. Hoor die merkwaardige woorde van die pa: Ek glo, help my waar ek nog ongelowig is (vers 24). 

In ons lewe gebeur dieselfde. Vandag, nieteenstaande Korona, nieteenstaande watter groot hartseer, vrees, of nood, is ons nog vol hoop , sterk in die geloof en sien kans vir alles. Maar dikwels, sonder dat iets erger gebeur het, is ons meteens in ‘n donker gat, verval ons in kleingeloof, wanhoop, desperaatheid.

Nieteenstaande die pa se ongeloof genees Jesus die kind. Die Here verwerp nie vir Elia nie maar rig hom op en gebruik hom steeds in sy diens.
Jesus se belofte bly staan dat Hy altyd met ons is. Ons kan daarom seker wees in ons grootste nood, ons kleinste geloof, sal Hy krag en genade gee dat ons kan aangaan. 

Prof. Bieks Beukes    
Capitalpark, Pretoria 
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: