Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Elkeen wat noodsaaklike dienste lewer - 20 April 2020  (Dag 25) 

Lees: 2 Korintiërs 1:3-11
Skrifoordenking: Dit is nou al ʼn paar weke wat ons ingeperk is. Daar is diegene wat in staat is om steeds voort te gaan met hulle werk van hulle huise af. Maar daar is ook diegene wat elke dag steeds werk toe moet gaan en wat een of ander noodsaaklike diens aan die publiek moet lewer. Ek dink hier aan die doktors, verpleegsters, aptekers, boere, veiligheidspersoneel, winkeliers en hulle personeel, bakkers en die man wat jou help om petrol in te gooi. Baie van hulle is mense wat hulle lewens op die spel plaas sodat ons kan aanhou funksioneer. Daar is baie in ons gemeente wat hierdie dienste lewer. 

In 1 Korintiërs 1 vertel Paulus van sy swaarkry in diens van die Here. Baie keer was hy in lewensgevaar gewees, ander kere was hy baie moedeloos gewees. Maar die wonder van alles is dat ons moet leer om nie op onsself te vertrou nie, “maar op God wat die dooies opwek tot die lewe” (1 Kor.1:9). Paulus beklemtoon die krag van die Here. Hy kan dooies opwek tot die lewe! Jesus Christus het dit in sy tyd op die aarde gedoen. Dink maar net aan die dogtertjie van Jaïrus (Mark.5:41). 

Terselfdertyd moet ons dink aan die nuwe lewe wat God vir ons elkeen moontlik gemaak het deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood (1 Petr.1:3), sowel as aan die ewige lewe. Ons kan almal saamwerk as ons vir al die mense wat noodsaaklike dienste in hierdie tyd verrig, aan die Here in gebed opdra. Paulus skrywe: “So sal die gebede van baie ʼn seën van God vir ons bring” (en dan bedoel hy hulle wat aan die voorpunt staan van die dinge wat gebeur) “en dan sal baie Hom vir ons dank” (1 Kor.1:11).  

Gebed: Here, ons bid vanoggend vir elkeen wat noodsaaklike dienste in hierdie tyd moet lewer. Ons bid dat U vir hulle seën sal bring. Ons dank U vir hulle bereidheid om in moeilike omstandighede steeds diensbaar te bly. Ons vertrou op U en nie op onsself en ons eie vermoë om hierdie situasie te beredder nie. Gee ons krag en sorg vir ons uit genade. Om Jesus Christus ontwil. Amen.

Dr. Jan Lion-Cachet
Klerksdorp 
_________________________________________________________

COVID-19
o nietig kleine mensekind
het angs jou so totaal verblind?
Dat jy God’s almag nie meer sien?
wanneer dit voor jou oë dien

deur Sy skeppingswoord
bring Hy ‘n hele skepping voort
en voor ons nietig mense-oog
word weer Sy skeppingsmag verhoog 

een virus, mikroskopies klein
laat Hy muteer en dan verskyn
slegs een mens hoef dit maar te kry
om dan soos vuur onder ons te wei

die ganse mensdom word getref
en almal kom tot die besef
geen politiek of wapenmag
kon hierdie stilstand ooit vermag

die mensdom word tot halt gedwing
maar plant en dier dy rustig in die sluimering
en in die stille mymering
word eenheid weer tot stand gebring

aan ‘n kruis - totaal verlaat
vind die hele mensdom baat 
om in geloof weer te aanskou
hoe God Sy almag voor ons bou 

in geloof Sy bloed aan ons kosyn
sal ook die doodsangs laat verdwyn
en vrede bring in ons gemoed
waar Vader, Seun en Gees ons voed.

o nietig kleine mensekind
laat nie die angs jou meer verslind
mag jy hierin God’s almag sien
wat Hy self voor jou oog bedien

in eenvoud word Sy naam verhef
in eenvoud mag ook jy besef:

“geen skepsel in die skepping wyd
geen ding in tyd of ewigheid
niks kan ons van God’s liefde skei
wat ewig vas in Christus bly”.

Bert Bakker
Standerton 
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: