Die in-die-kol-gebed - 20 Augustus 2020 (Dag 147)
As ‘n toekomskundige ‘n jaar gelede die chaos wat die wêreld vandag beleef, voorspel het, sou hy/sy heerlik bespot gewees het. Die wêreldorde was immers vasgelê; ,,sustainable”, onvernietigbaar. Méns was koning. Maar die pandemie het daardie illusie verpletter. Talle mense besef hoe weerloos die mensdom is. En Jesus het tydens sy aardse omwandelinge reeds ons oë gevestig daarop dat die mensdom se felste stryd nie gestry word met dollars of jen nie. Die oorlog gaan om die gees, die denke van die mens. Met ‘n eenvoudige beeld uit die natuur vlek hy die mensdom se diepste nood oop, sodat ons die stryd op die regte vlak kan voer.
Simon, Simon! Kyk, Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid sodat jou geloof nie sal wankel nie. En wanneer jy eendag tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk. (Lukas 22:31-32)
Opvallend: nie ,,Petrus”, die rotsman van die kerk nie, maar ,,Simon”. Die dom Aramese man, wat so vol is van homself. Selfstandige, betroubare méns: geen versoeking sal hom laat swig nie; hy bied homself aan as martelaar vir Christus. (vers 33) Sy geloof sal ,,sustainable” (modewoord van ons dag) bly voortstuwe. Miskien het hy selfs beterweterig geglimlag: Ek sal my lewe vir U aflê. (Joh 13:37) Hy het duidelik nie rekening gehou met die krag en lis van die Here se magtige vyand nie. Soos met die eerste mensepaar sentreer hy die aandag op die uitwendige, die sigbare, sodat ons elke besef van die onsigbare verloor. ,,Kyk hoe pragtige die vrug! Om jou eie god te wil wees, is volgens die Freedom Charter!” (Genesis 3) Simon het nognie ervaar dat die godhater jou met die vuis kan slaan ( 2 Kor 12:7) nie, sodat jy moedeloos bid om uitkoms. Jesus ken die felheid van die stryd; Hy het elke dag in die smeltoond van die sielestryd gestaan. Daarom bid Hy vir sy voortvarende dissipel. Hy weet van die listige slenters om die gelowiges se denke en teologie te verwring, om sy dissipels se geloof en die kerk se belydenis so te vervals dat dit kragteloos in kompromieë met die wêreld se ideologieë vasval.
Soos sy hele aardse lewe, doen Jesus sy deernisdaad vir sy dissipel: MÁÁR ÉK ...! Hy gaan staan tussen Satan en Simon: Satan wou jou uit my hand ruk, maar Ek het vir jou gebid. Jesus BID vir Simon! Kragtiger en opregter as die gebed van die vroomste predikant.
Insiggewend: wat bid Hy vir hierdie kleingelowige? Dat sy Vader alle stryd, lyding en smart van hom af moet weghou, hom moet oppiep soos ‘n peutertjie? Nee, luister: sodat jou geloof nie moet wankel nie. Geloof! Bring geloof kos op die tafel as die geld op is? Is Jesus só ver van die realiteite van ons lewe verwyder dat Hy om geloof bid as ons versorging nodig het?
Teen die einde van die vorige eeu is daar aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit intensiewe empiriese navorsing gedoen oor die verband tussen kerklidmate se geloofsekerheid en die mens se diepliggende angs. Al die statistiese verwerkings het een ding skerp in die kollig geplaas: Daar is ‘n sterk negatiewe verband tussen Christene se geloofsekerheid en hulle angsvlak! D.w.s.: hoe sterker mense se geloofsekerheid is hoe swakker beleef hulle angs. Ons lei af: mense wie se geloof vasstaan, verwerk angs en stres beter. Wanneer ons geloof wankel, blom ons angs en stres, en dit belemmer probleemoplossende denke. As Simon se geloof in Jesus onwankelbaar was, was hy nie die verloënaar nie! Jesus se gebed vir Simon was dus in die kol! Ook vir ons.
Kom ons bely in geloofsekerheid: Die pandemie sál eindig, want God is in beheer daarvan; die
pandemie is nie in beheer van God nie!
Dr. Samuel van Vuuren
Drie Riviere