Christus oefen Sy mag uit - 20 Julie 2020 (Dag 116)
Openbaring 1: 7a. “Kyk, Hy kom met die wolke,...”
Onder die regulasie mbt die verspreiding van die Covid 19 virus, het ons gesien dat verskeie persone oor onbenullighede in die aanklag kantoor beland het. Dit mag wees dat ons in die dae wat kom, selfs baie swaar onder die druk en geweld van sekulêre regerings gaan ly.
Hulle mag die regulasies afdwing, ---want so neem hulle aan---- hulle is immers met “krag en heerlikheid beklee”. Hierdie druk is egter tydelik, sê Johannes.
Ook setel krag en heerlikheid nie by wêreldlike regering nie. Nee, Jesus Christus is die Bron van gesag ...Hy besit heerlikheid en krag tot in ewigheid.
Die onvernietigbare krag en onverwelklike lewe is alleen by Hom....by Jesus Christus wat ons lief gehad het en nou nog lief het. Maar... so kan ingebring word: Ons sien dan niks van Sy krag en heerlikheid nie. Julle vergis julle, sê Johannes. Hy laat sy krag inderdaad in die wêreld geld.
Kyk hoe kom Hy met die wolke aangery. Die wolke waarna hier verwys word, is nie die wolke waarna ons kyk om vir ons reën te bring nie. “Wolke” is in die Skrif aanduiding van benouende, chaotiese kragte. As Johannes sê: “Kyk Hy kom met die wolke...” dan sê hy daarmee: in elke wêreldstorm, in elke vlaag van geweld, in die aardbewings , in oorloë....kom ons Here Jesus aangery oppad na die einde en tot ons finale verlossing.(Markus 13)
Is ons oog oop vir Sy krag en heerlikheid in die wêreldstorms van ons tyd? Wie dit sien in sy lewe kom daar ‘n rustigheid en kalmte. Sien ons ook die stof wat die duiwel, die owerste van hierdie wêreld opskop om, as dit moontlik is, Jesus Christus in Sy koms oppad na die finale oorwinning te probeer keer?
Wees gerus... Jesus Christus kan nie gekeer word nie....niks kan Hom keer nie !
“Kyk Ek kom !” Dan breek ons lofsange deur in ons lydensnagte.
Ons weet ons volkome verlossing is naby...en ons sê vir mekaar:
“Moenie verskrik word nie...hou goeie moed !”
“Bly op u pos as konings en priesters van die Allerhoogste God en vervul u roeping met ‘n oorwinningstemming”
“Verheug u in die Heer.
Lofsing Sy Naam tot eer.
Hy’s Hoog en Heilig Hy.
Dr Frans De Bruyn
Bloemfontein