Liefde, deernis, omgee en empatie - 20 Junie 2020 (Dag 86)
Sondag is Vadersdag. Die eerste Vadersdag sedert Covid-19 kop uitgesteek het maar ook hopelik die laaste tydens die virus se storm. Covid-19 is soos ‘n tweesnydende swaard. Aan die eenkant verwoesting, hartseer, pyn. Aan die anderkant stilte en nadenke. Veral nadenke m.b.t ons verhouding met ons hemelse Vader, maar ook m.b.t. ons verhouding met ons huisgesin. Vadersdag se bedoeling is dat ons veral sal dink en praat oor die vader/pa wat die Here vir ons gegee het.
Dit is môre Vadersdag. Ek dink aan my pa, my skoonpa, my oupa, die besondere manne op my lewenspad. Ek dank die Here vir hulle. Ek sien in my geestesoog hoe hy en my ma verlangend na my koms uitgesien het. Saam met my ma het hulle hard gewerk om elke dag vir my kos op die tafel te sit, om vir my huisvesting en kleding te gee. Dit is hy wat gesorg het dat ek onderrig ontvang het op skool en op universiteit- die een wat toegesien het dat ek toegerus is vir die lewe. Van kleinsaf het hulle as’t ware saam met my geleef- in die skool, op die sportveld, selfs help soek na ‘n lewensmaat. Hulle het my waardes en norme geleer- wat reg en verkeerd is. Om soos die Bybel sê om met begrip, fyn aanvoeling in liefde te kan onderskei waarop dit aankom in die lewe. By hom het ek geleer wat pligsgetrouheid is. Hy is die een op wie se skouer ek kon huil. Die een saam met wie ek grensloos kon lag. Bo alles dit is hy wat vir my van kleinsaf leer bid het, om elke dag my te verdiep in die Woord van die Here. Hy by wie ek gesien en geleer het om Sondag af te sonder vir die Here en saam met die gelowiges te gaan aanbid in die huis van die Here. In sy lewe kon ek sien wat liefde vir die Here en sy medemens beteken. Sy optrede teenoor my ma het vir my die voorbeeld geword van hoe ‘n mens sy lewensmaat moet liefhê. Alles wat ek in die lewe het en is, het ek en is ek in ‘n groot mate aan hom te danke.
Miskien is jy vandag saam met my hartseer omdat jou pa nie meer lewe nie. Miskien het jy nooit die voorreg gehad om jou pa te ken nie. Miskien het jy jou pa geken maar jy wil hom nie meer ken nie vanweë al die hartseer en pyn wat hy vir jou veroorsaak het. Mag die Here jou so vertroos en lei dat jy al die negatiewe dinge sal vergeet wat jou pa jou aangedoen het en net die positiewe onthou. Mag hy jou so lei dat jy kan vorentoe beweeg en hierdie stuk hartseer uit jou lewe verban.
Op die dag moet ons wat vaders is ook dink hoe om goeie pa’s vir ons kinders te wees. ‘n Pa wees soos die pa van Istanbul wie se kind in ‘n sikloon onder ‘n murasie vasgeval het. Toe hulle die kind na baie dae vind, is die eerste wat hy sê: “ek het geweet my pa sal my kom haal.” So ‘n pa op wie sy kind volkome sal vertrou.
Pa wees soos die pa van die seuns in Lukas 15. ‘n Pa wat sy kind vryheid gee wanneer dit nodig is, ‘n pa wat sy kind altyd onthou, ‘n pa wat sy kind volkome vergewe vir wat hy/sy verkeerd gedoen het, ‘n pa wat ook begrip het vir die oudste seun se nukke. ‘n Pa van liefde, deernis, omgee en empatie.
Prof. Bieks Beukes
Capitalpark, Pretoria