Saam met God deur vuur en water - 20 Mei 2020 (Dag 55)
Lees: Jes 43:1-2
Ons het almal `n Skrifwoord wat vir ons besondere betekenis het. Hierdie Skrifgedeelte is een van myne. As jong student, soekende na die Lewende God, het dit een aand God se woord aan my geword en `n anker geword waaraan ek deur dik en dun vashou.
Hierdie woord van die profeet kom na `n volk in ballingskap. In die voorafgaande gedeelte word die redes van hul toestand uitgespel: ’Hulle het vergeet wie hulle was’
“Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel:’’
Dit is die Skeppergod wat aan die woord is, Hy het met Jakob, die bedrieër, begin en hom gevorm tot Israel. Dit is die magtige werk van God wat van `n klein, sondige begin `n volk gevorm het waardeur Hy Homself wou bekendstel aan alle volke as die ware Liefhebbende Vader. Hulle het misluk en hul doel gemis.
Maar nou.. “Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne” Vir my was daardie woorde die woorde van die Ewige Lewe, want wat is kosbaarder en sekerder, as dat God verklaar dat jy Syne is!
Uit die geskiedenis weet ons dat God sy volk uit ballingskap gered het, maar dit het Jesus se groot offer aan die kruis gevra om hulle uit die geestelike ballingskap te bring. As die geestelike Volk van God in die Nuwe Testament kry ons `n tweede kans om God en Sy heerlike Koninkryk aan alle volke bekend te stel.
Daarom.. “As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere , hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou brand nie, want Ek is die Here jou God..jou Redder.” Water reinig en vuur louter en in die proses word ons getuies te midde van mense wat saam in die water en die vuur is en doodbang.
En ons.. Moenie bang wees nie. Ek is saam met jou in die water en die vuur.
Ds. Pieter Strauss (Emeritus)
Bloemfontein.