Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Geloof, Hoop en Liefde - 21 April 2020  (Dag 26) 

1 Korinthiërs 13:13: “En nou bly geloof, hoop, liefde – hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.”

In die breë teksverband maak hierdie woorde deel uit van Paulus se betoog oor die regte gebruik van die verskillende geestelike gawes in die gemeente (Hoofstukke 12-14). In nouer verband sluit Paulus met hierdie vers sy groot hoofstuk oor die liefde af.
Die woorde “En nou bly…..” kan op een van twee maniere verstaan word. Eerstens kan dit betrekking hê op die huidige situasie in die gemeente van Korinte. Van al die geestelike gawes bly hierdie drie die belangrikste. Tweedens kan dit verwys na die toekoms. Selfs nadat al die gawes verdwyn het en die gemeente self nie meer bestaan nie, bly geloof, hoop en liefde steeds die belangrikste aktiwiteit vir ‘n gelowige.

Die Koronavirus het dwarsoor die wêreld heen die normale lewensloop tot stilstand gedwing. In ons land staan selfs kerkdeure toe en die gemeente aktiwiteite is beperk tot die elektroniese media. Dit is asof Paulus hierdie woorde vir ons dag geskryf het: “En nou bly geloof, hoop, liefde….”

Die middelste woord, hoop trek dadelik ons aandag, want is dit nie die één ding wat ons nou dringend nodig het nie? Hoop dat alles weer spoedig tot normaal sal terugkeer. Hoop op ‘n beter toekoms, ens. Solank daar hoop is, is daar lewe. As daar nie meer hoop is nie…..

Wat is hoop? Waar vind ek hoop? Wat is die oorsprong daarvan? Wat is die resultaat daarvan. Waartoe wil hoop ons inspireer? 

Let op dat hoop hier ingebed is tussen geloof en liefde. Die eerste, geloof, wys terug na die oorsprong, die fondament van hoop. Liefde weer wys vorentoe, na die aksie waartoe hoop ons wil lei.

Sonder geloof kan daar nie hoop wees nie – geloof in God die Vader, die Skepper en Onderhouer van alle dinge. Geloof dat God, wat ons nog altyd deur groot krisisse gedra het (1918 se griep, 1933 se depressie, 1994 se politieke oorgangstyd), dit ook nou sal doen. Geloof in Christus, ons Verlosser, wat vir ons intree by die Vader. Geloof in die Heilige Gees, ons Leidsman en Trooster, ook in hierdie tyd.

Hou vas aan die geloof. Hou vas aan God se beloftes in Sy Woord. Bid dat ons geloof nie sal wankel nie.

Geloof bring hoop voort. Hoop is geloof in aksie. Omdat ek glo, daarom hoop ek. Daar is twee soorte hoop. Die wêreld se hoop is afhanklik van omstandighede: Ek hoop op ‘n beter oes of op beter werksomstandighede. Maar hierdie hoop is afhanklik van omstandighede. As dit nie reën nie, of die ekonomie groei nie, is my hoop daarmee heen. 

Die Bybel se hoop is nie afhanklik van omstandighede nie, want dit is geanker in God, God wat altyd dieselfde bly, wat nie beïnvloed word deur omstandighede nie, God van Wie die digter in Psalm 46 sê: “God is ons toevlug en ons krag; in nood is Hy gereed om te help.” Daarom kan ons bly hoop, selfs al is die omstandighede donker.

Maar hoop, sê 1 Kor 13:13 bestaan nie alleen nie. Dit vloei voort uit geloof, maar dit kry gestalte in dade van liefde: “Nou bly geloof, hoop, liefde……en die grootste hiervan is die liefde”. Hoekom is liefde die grootste van die drie? Want liefde is geloof en hoop in aksie. Ons hoop op ‘n beter Suid-Afrika na Covid-19. Maar dit sal baie bouwerk van ons vra, op alle terreine van ons samelewing, bouwerk waaraan elkeen van ons met ‘n gesindheid van liefde sal moet meewerk.

Laat ons vashou aan die geloof. Laat ons vashou aan die hoop. Laat ons deur die liefde saambou aan ‘n beter toekoms vir almal in ons land. 

Ds. Thys Lourens
Rooiberg, Limpopo
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: