Ek kom niks kort - 21 Augustus 2020 (Dag 148)
Die lewe van die mens bestaan uit ‘n potpouri van soet en suur, goed en sleg, voorspoedig en rampspoedig, siek en gesond. Die Psalmdigter van Ps.23 noem dit feesmaaltye en donker dieptes.
Volgens tradisie is Psalm 23 deur Dawid geskryf. Dawid het in sy lewe baie goeie, wonderlike dinge beleef. Op ‘n baie jong leeftyd verslaan hy die reus Goliat en lei die volk Israel tot ‘n groot oorwinning oor die Filistyne. Hy word koning van die Israeliete, die uitverkore volk van die Here. Hy was ryk aan aardse besittings. Hy behaal oorwinnings oor feitlik al die omringende nasies. Die Messias, die verlosser van die wêreld, Jesus Christus is uit sy nageslag gebore. Hy word selfs ‘n man na Gods hart genoem.
Aan die anderkant het Dawid baie swaarkry en ellendes beleef, donker dieptes. Hy vlug voor koning Saul. Na sy owerspel met Batseba sterf hulle pas gebore kind. Daar is fisies oorlog tussen hom en sy seun Absalom waarvan die einde die hartverskeurende boodskap is dat sy seun met sy hare hangende aan ‘n boom dood is. Meer as eenmaal beleef hy hoe sy kinders die pad van sonde en ongeregtigheid loop en baie verdriet oor die koningshuis bring.
Die Bybel vertel nie net van Dawid nie, maar van baie ander gelowiges wie se lewe bestaan het uit vreugde en smart. Dink maar aan Job. Hy word beskryf as die rykste van almal in die Ooste. In een nag verloor hy al sy besittings en al tien sy kinders.
Dink aan Paulus. Uitverkore apostel van God. Draer van die Evangelie van Jesus Christus tot by die uithoeke van die aarde. Hy is menige keer met stokke geslaan, met klippe gegooi, in die gevangenis gewerp en sterf op ‘n brandstapel.
Ons lewe is nie anders nie. Met die meeste van ons gaan dit goed. Ons het elke dag kos op die tafel, klere om aan te trek, ‘n dak oor ons kop. Ons het ‘n huweliksmaat, kinders, kleinkinders, familie, vriende. Ons is redelik gesond. Alles wat ons nodig het. Eintlik, as ons mooi daaroor dink, ons kom niks kort nie. In ons basiese behoeftes is voorsien.
Aan die anderkant ken ons almal ook donker dieptes. Siekte, dood, droefheid, vrees, angs, bekommernis. ‘n Geliefde wat sterwend is of wat nie meer daar is nie. My eie siekte wat ongeneeslik is. My tafel wat nie meer kos op het nie. ‘n Inkomste wat opgedroog het. Eensaamheid wat my verswelg.
Ek dink elkeen van ons sal net soos die Psalmdigter kan getuig dat ek ook ervaar of my lewe feesmaaltye of donker dieptes is die Here is altyd by my. Hy is my herder. So my herder dat ek ook uiteindelik kan sê: Ek kom niks kort nie.
Ek kom niks kort nie want:
Die Here is my herder
• Die Herder wat vir my gesterf het aan die kruis en al my sonde vergewe het;
• Die Herder wat uit die dood opgestaan het en vir my die ewige lewe gegee het;
• Die Herder is ook my Vader wat by my is tydens feesmaaltye maar ook in donker dieptes;
• Die Herder is die Heilige Gees wat my altyd sal vertroos en versterk om onder alle omstandighede te kan voortgaan in die lewe.
Wat môre en oormôre met ons sal gebeur weet ons nie. Gaan ons lewe feesmaaltye of donker dieptes wees? Dit weet ons nie. Wat ons wel weet is dat God deur dit wat Jesus gedoen het altyd ons Herder sal wees. Ons kan glo dat hy elke dag so met ons sal wees dat ons niks sal kort kom nie. Nie terwyl ons lewe nie, maar ook nie wanneer ons sterwe nie.
Prof Bieks Beukes
Capitalpark, Pretoria