Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Ek wegraak of wegloop - 21 Julie 2020 (Dag 117) 

Lees: Psalm 139:7-12

Toe jy ‘n kleuter was, kon jy kwalik vir jou ma of pa weghardloop, maar namate jy die tienerstadium ingegaan en naderhand jong volwassene geword het, het dit al makliker geword om vir hulle "weg te hardloop", om dinge te begin doen waarvan hulle niks weet of kon uitvind nie.

Noudat jou pa en ma jou al vooruitgegaan het, is jy “ver weg” van hulle oë. Maar - vir God, ons hemelse Ouer, kan jy nooit weghardloop nie; gelukkig kan jy ook nie vir Hom wegraak nie! Dis nie iets wat jou moet laat bang voel nie; dit moet jou juis gerus stel, en bly en dankbaar maak. 

Daarom kan jy saam met die digter van Psalm 139 hierdie woorde met vreugde in jou hart vir die Here sê:

Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug?
Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom? Klim ek op na die hemel, is U daar,
gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas.
Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek, of die lig rondom my om in nag te verander, maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig. (Ps 139:7-12)

Al sou jy dus in domheid wou probeer om van God weg te kom, kan jy wéét: “God sal sy kind nooit permanent laat wegraak of "wegkom" nie. Hy "vang" my altyd weer!” Dit is soos 'n veiligheidsnet wat onder jou gesprei is. Hoeveel keer het jy al gestruikel en selfs geval, maar God verseker jou: “Ek sal nie toelaat dat jy wegkom of wegraak nie; Ek "vang" jou altyd weer!”

Prof. Fika J van Rensburg
Potchefstroom
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: