Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Vadersdag - Om Vader te wees - 21 Junie 2020  (Dag 87) 

Vandag sal vir die meeste van ons die eerste isolasie Vadersdag in ons lewe wees. Die van ons wat gewoond was aan ‘n familiefees sal maar die beste moet maak van virtuele kontak met ons kinders.

Maar die troos is: Al gebeur Vadersdag in sosiale isolasie, word ons kinders se liefde en waardering nog steeds beleef en met warm woorde oorgedra. Mens is dankbaar vir soveel gesinne vir wie dit moontlik is om in hierdie gees die dag deur te bring.

Baie gesinne leef natuurlik nie met die luukse van geborgenheid in ‘n goed funksionerende gesin nie. Die nuusberigte die afgelope week en die opgawe van gesinsgeweld die afgelope halfjaar is regtig ontstellend. Die grendeltyd het ook sy dosis spanninge gebring.

Daarom basuin ‘n dag soos Vadersdag ook ‘n uiters belangrike noodkreet: Die verlange na ‘n sorgsame vaderfiguur se stabiliserende invloed in elke huisgesin. Die druk op vroue in normale en enkelouer gesinne word ondraaglik groot. Dit is die nare werklikheid waarin so baie mense in ons dag lewe en dit is die verworde skepping waaruit ons sug en hoop om verlos te word (Rom 8:23)

As gelowiges het ons die voorreg om nie hooploos uitgelewer te wees aan die ellendes van hierdie wêreld nie. Ons leef nie Vaderloos in hierdie geskape werklikheid nie. Ons leef in die kosbaarste verhouding waarin ‘n mens homself kan bevind vanaf die dag toe ons ontdek het dat in God ons ‘n hemelse Vader het.

Ons weet almal hoeveel stabiliteit daardie Vader-kind verhouding vir ons bied en ons bemagtig om voor- en teenspoed met geloofskrag te hanteer. Indien ‘n mens sukkel om te verstaan hoe geloof in God jou lewe stabiliseer en volmaak van geloofsenergie, dan is die Paulus woorde in Romeine 8 ‘n kosbare stuk om aandagtig te lees en te oordink.

Die belangrikste ding wat tussen God en mens gebeur is dat God anders na ons kyk en anders oor ons oordeel nadat Jesus gesterf het vir ons sondes. Ons is nie meer verlore sondaars wat met hart en verstand en kragte gefaal het om God se Wet te onderhou nie. Jesus het in ons plek die straf vir ons sonde betaal en ons kan weet daar is niks meer wat ons van die liefde van God kan skei nie.(Rom8:37)

Ons nuwe status voor God word die van Kinders van God: Die Gees oortuig ons om God as ons Vader en Verlosser vas te gryp in die geloof. Die Gees gee in ons die vertroue om tot God te roep en Hom te eer as Vader. Die Gees leer ons ook om op Sy beloftes te hoop en hoe om as kinders van die Allerhoogste te leef.

Hierdie kindskap maak ook van ons erfgename saam met Jesus Rom 8: 17. Dis die moeilike deel van Kindwees: Ons erf ook sy lyding in die gebroke wêreld. Maar dit sal nie lyding sonder hoop of doel wees nie. God deurgrond (Rom 8: 27) ons behoeftes en laat ook lyding bydra tot ons opbou. God laat alles ten goede meewerk vir die wat Hom liefhet (Rom 8: 28). Ons bemoediging is: Geen aanvegting sal meebring dat ons uit God se hande glip nie.

Verder hoor ons: Hierdie lyding sal nie opweeg teen die heerlikheid wat God in die toekoms sal laat aanbreek nie: Die wederopstanding van die vlees en die ewige lewe.

Op Vadersdag word ons herinner: God weet hoe om Vader te wees. Daarom leer Jesus ons elke dag begin met die woorde: Ons Vader wat in die hemel is...

Ds. Wim Slabbert
Faerie Glen, Pretoria 
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: