Hemel op aarde - 21 Mei 2020 (Dag 56)
Lees Kolossense 3:1-4.
Op die oomblik lyk alles vir ons donker en duister. Covid-19 hang oor ons soos ‘n verwoestende swaard. Miljoene is getref deur die virus. Duisende is dood. Die ekonomie is verpletter. Normale kommunikasie met vriende en geliefdes is geblokkeer. Sondae is daar nie meer gewone eredienste nie. Ek het iemand hoor sê: dit is nou hel op aarde. Is dit so? Nee, gelukkig nie. Ons leef nog. Ons kan ons nog steeds saam met die Kerk van alle tye Jesus se hemelvaart herdenk.
Met hemelvaart herdenk ons, kry ons deur die werking van die Heilige Gees die sekerheid dat ons deel het aan alles wat Jesus vir ons gedoen het en steeds doen. Ons ontvang opnuut die sekerheid dat ons deur Jesus nou nuwe mense is - mense wie se sonde vergewe is, vir wie die dood oorwin is. God is nou ons Vader, die Vader met die aller grootste liefde vir sy kinders. Die een wat oor oneindige mag en krag beskik. Ons ontvang opnuut die sekerheid dat die HeiligeGees in ons woon, ons lei na Jesus, ons vertroos en versterk, ons lei op die regte pad. Nog meer - ons hoor op hierdie dag dat Jesus aan die regterhand van die Vader sit. Dat Hy vir ons reeds daar plek berei het. Dat Hy daar ons saak bepleit, vir ons intree by die Vader. Dat aan Hom alle mag gegee is in hemel en op aarde. Hemelvaart bevestig dit alles vir ons, en ek, nietige mens het deel aan dit alles.
As ons mooi luister dan besef ons, ons het nou reeds hemel op aarde. Deel aan die grootste, die belangrikste, die wonderlikste van alles. Nog meer - Is dit nie hemels dat ook in ons alledaagse behoeftes voorsien is en steeds voorsien word: kos op die tafel, huis om in te woon, klere om aan te trek, geliefdes wat ons omring, deel van ‘n geloofgemeenskap, te veel om op te noem. Net soos die eerste mense is ons as’t ware ook in die paradys. Hemel en aarde het vir ons weer een geword.
Hoeveel miljoene op aarde het nie hierdie wonderlike voorregte waaraan ons deel het nie. Vir hulle is die lewe op aarde nie hemels nie. Hulle het eerder hel op aarde. Miljoene wat nie kos het nie, nie huisvesting nie, net vodde om aan te trek, geen geliefdes op hulle lewenspad, nie deel van ‘n kerk nie, ken Jesus nie, glo nie in Hom nie.
Die Here sê nou vir my en vir jou, op hemelvaart, elke dag van ons lewe: Omdat julle deur Jesus nuwe mense geword het, soek die dinge daarbo. Hou julle besig met die dinge wat vir Jesus belangrik is. Dink daaroor, praat daaroor. Doen dit. Gaan voort om julle troos, julle krag, julle sekerheid in Hom te vind. Lei ander na Jesus toe. Help almal wat jou pad kruis sodat hulle ook net soos jy ten minste ‘n stukkie, ‘n bietjie, van die hemel reeds nou hier op die aarde sal ervaar.
Prof Bieks Beukes
Capitalpark, Pretoria