Christelike hoop is ons lewensanker - 22 April 2020 (Dag 27)
Die heerlike feit dat die hoop wat God ons gee (naas die gawes van geloof en liefde) vir ons ons lewensanker is, vind ons in Hebreërs 6:19.(Lees Hebreërs 6:11-20 )
Vir die gewone Grieke in die Nuwe Testamentiese tyd, net soos vandag nog by die meeste mense, beteken hoop iets anders as wat die Bybel ons daaroor leer. Wanneer ongelowige Grieke die woord hoop gebruik het, het dit gedui op iets wat heeltemal onseker is, hoewel hy of sy dit waarop gehoop word, graag sou wou hê. Maar daar was twyfel. Dit het met iemand se verbeelding te doen.
Die Bybel gebruik die woord hoop heeltemal anders. Die Christelike hoop waarvan die Nuwe Testament veral praat, verwys na iets wat juis seker en waar is en iets is waarna met reg uitgesien kan word. Dit sal in vervulling gaan. Nie miskien nie, maar werklik.
Wat is ware Christelike hoop dan? Dit is kort om God op sy Woord te neem. Om te weet en te glo dat dit wat God belowe het in vervulling sal gaan. Ter illustrasie hiervan gebruik die skrywer ‘n stukkie geskiedenis uit die lewe van Abraham. In Genesis 22 (kyk ook Genesis 12, 17 en 21) blyk dit dat God by Homself gesweer het (‘n eed geneem het) en dit so aan Abraham belowe het, dat Hy hom sal seën en aan hom ‘n groot nageslag sal gee; en in sy nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word. Dit beteken in Christus wat uit sy nageslag gebore sal word – tot ‘n seën vir al die nasies!
Dit was die belofte; en hierdie belofte sal in vervulling gaan ten spyte van die feit dat Sara oor die leeftyd van kinders-kry was; dus, uit die dooie moederskoot van Sara sal God vir hom ‘n nageslag begin verwek. Vir 25 jaar moes Abraham en Sara daarvoor wag, en toe hy 100 en Sara 91 oud was, is Isak gebore, MAAR volgens Romeine 15:4 het Abraham nooit aan hierdie belofte getwyfel nie. Hy het gebly hoop en gelowig gewag op die vervulling. Daarom staan daar: Abraham het die belofte verkry nadat hy geduldig gewag het (Hebr 6:15). Hy het gebly hoop; hy het God op sy Woord geneem.
So gaan al God se beloftes in en deur Jesus Christus in vervulling. Daarom ook die beloftes van God se voortdurende versorging; die verlossing van sonde en dood en smart; die belofte van die koms van sy koninkryk (dat God altyd regeer). Dat Hy ons gebede hoor en verhoor.
Onder alle omstandighede, en veral in tye van beproewing en lyding, moet ons bly hoop. Paulus sê in 1 Tim 1;1 dat Christus ons hoop is. Bly hoop op Christus. Hoop is aan ons gegee as gawe, en tegelyk is dit ook ‘n opgawe, ‘n oproep om te hoop. Dit is ons lewensanker wat aan ons stabiliteit en vastigheid gee as ons soos skepe in ‘n storm heen en weer gedryf word. Maar ons anker is nie in die dieptes van die see nie, maar daarbo by God in die hemel waar Christus ons Koning en Verlosser en die Heilige Gees ons Trooster en voorbidder is.
Prof. Dries du Plooy (emeritus)
Jeffreysbaai