Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Ek glo in en vertrou op God, my vader in Christus - 22 Julie 2020 (Dag 118) 

Lees: Hebreërs 1:1-14 Fokus: verse 10-12 

Ons Skrifgedeelte beeld Jesus se almag uit in sy verhewe posisie na sy hemelvaart. Hy is aan die regterkant van sy hemelse Vader. In Hebreërs 1: 10 sê Hy (Christus) het aarde en hemel gemaak. Vers 2 van ons Skrifdeel beskryf Jesus as skeppingsmiddelaar van alles.
 
Wetenskaplikes gis oor presies hoe oud die heelal is. Party sterrestelsels se lig kom na miljoene jare nou eers by ons uit. Op hierdie ondenkbare tydskaal is ons lewensduur nie ’n halwe oogknip nie. Maar Jesus was voor hierdie magtige skepping alreeds daar, lees ons in Johannes 1. So duidelik is dit ook in ons teksgedeelte. Hoe meer wonderwerke ons in die wetenskap ontdek, besef ons: Hierdie onmeetlike, wondermooie skepping is die werk van ‘n ondenkbaar almagtige God.

Johannes sê in sy Evangelie “In die begin was die Woord.” Niemand weet wat daar was voor die begin nie. Sterrekundiges en fisici probeer gedurig uitvind. Tog weet ons: ‘n Kunswerk kan nie bestaan voor die kunstenaar nie. God is die skepper van alle dinge. Die geskape werklikheid kan kom en gaan soos ons jare, sê vers 11. Alles, ook ons wêreld raak al meer verslete—dikwels selfs deur ons mense se misbruik daarvan. Soos klere, sê die skrywer, sal die wêreld opgerol en vervang word. Tog kom die trooswoord vir ons daarby: Christus se jare het geen einde nie. In Bybelse tye was die heidenvolke se sogenaamde gode alles behalwe almagtig. Hulle was tot hul eie land en volk beperk. Mense moes ook hul magtelose godebeelde ronddra. Ons kan egter bely: omdat ek in Christus glo, sal die almagtige Vader, heerser oor alles, my versorg na liggaam en siel. Selfs vrugbare of onvrugbare jare is in sy hande. Ons sidder nie voor ‘n wispelturige god soos die heidene nie. Ons God leef, en deur Jesus se offer het Hy ons liefdevolle Vader geword. In Psalm 147 word vertel dat God die sterre name gee. Net een uit al die miljoene sterre, Betelgeuse, is 700 keer groter as ons son! God verbind egter ook klein mensies se wonde. Hy sorg selfs vir die gras op die berge, sê dieselfde Psalm.

Vertrou jy op jou liefdevolle, almagtige Vader? Jesus, ons middelaar, in wie se naam ons bid, Onse Vader, was daar toe Hy en die Vader ons wêreld geskep het. Dis ons troos. Hy is ook herskepper van die nuwe hemel en die nuwe aarde waarheen ons almal op pad is. Elke nuwe plooi op ons gesigte Elke eerste geluid wat ‘n pasgebore babatjie maak, herinner ons: Die tyd staan nooit stil nie. Lukas Maree sing ‘n pragtige liedjie oor kiekies wat net momente in die voortgang van ons lewe vasvang. Die skepping beweeg voort. Aan die einde van die skepping soos ons dit ken, wag ‘n ewige heerlikheid vir God se kinders. Dit is beskore vir almal wat in Jesus, ons skeppingsmiddelaar glo as verlosser. Dit is ons troos onder alle omstandighede. Ook nou in die onseker tyd wat ons deurgaan.

Ds. Anton van Rensburg
Bellville 
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: