Om moeilikheid te soek - 22 Junie 2020 (Dag 88)
‘die Here het dit nog nie op die aarde laat reën nie, want daar was nog nie ’n mens om die grond te bewerk nie (Gen.2:5).
Dit kan deurgaan as natuurwetenskaplik heeltemal logies en mees waarskynlik uit die pen van Moses self. Om watter rede sou die ontwikkelde jongman, boonop uit die geslag van Leviete, hom te midde van die ontwakende skryfkuns van die Egiptiese Nuwe Ryk (1570-1085 v.C.), nie gedring gevoel het om die oorleweringe van die Aartsvaderlike skeppingsgeloof op te teken nie?
Die eerste landbouers (boeremense) waarvan in die Woord van God sprake is, noem hy Kain en Abel. Die agtergrond waarmee sy semitiese lesers hulle kon vereenselwig, was landbou in die leemgrond langs die Nyl (Kain) en veeboerdery in die aangrensende woestynagtige dele van Egipte (Abel).
Vir die natuurwetenskappe, wat met instrumente vasstel dat planeet aarde talle millennia gelede ’n onbewerkbare saambondeling van rotse uit die son was, behoort hierdie insig van Moses nie onopgemerk verby te gaan nie. Eers na baie-baie eeue het erosie grond geskep waarop die mens ’n bestaan kon maak. Maar Moses wat Leviet was, profeet, ontvanger van openbaring word ook prediker op skrif vir die aandag van sy volk. As Paulus oor hierdie tafereel terugkyk en Israel se rol daarin vir heidenbekeerlinge in Rome verduidelik, stort hy sy hart uit in ’n jubeling oor die diepte en wysheid van die kennis van God:
Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge (Rom.11:36). Wie meen dat God hom iets skuld op grond van ’n verdienste, begaan ’n jammerlike fout. Kyk rondom en verstaan dat ons bevoorreg is om op die enigste, lewensonderhoudende planeet in ons sonnestelsel te leef. Maar nou, aangesien alle dinge uit Hom (NAV) is – daarom ook deur Hom onderhou word, moet dit inderdaad tegelyk – tot Hom wees; for everything comes from him; everything exists by his power; and is intended for his glory (NLT). Laat ons soms maar die Skrif in die rykdom van verskillende tale ondersoek en so ons deur die Gees van God met groter dringendheid aangespreek te voel…
Die enigste werkbare oplossing vir die wanorde van verwoesting en plunder van die dag, is ’n gereformeerde Christenheid wat in alle dinge die hand vir ’n ‘nuwe normaal’ moedig opsteek – die fyn lyn dat alle dinge tot eer van God moet wees. Want, andersins, as jy moeilikheid soek, sal jy dit kry, lui die spreekwoord. Die sleutel van hoop in ons vaderland is, en sal altyd wees SOLI DEO GLORIA, waarvan Paulus in Rom. 12:20 ook spreek as die manier by uitnemendheid om ’n vyand vuurrooi van skaamte te maak. Daarin lê ons hoop soos wat selfs Jan van Riebeeck in opgetekende gebed die eer van God as goeie rede vir die volksplanting benadruk het.
Dr Dunes van der Merwe
Somerset-Wes