Nog gehoop en nog geglo - 22 Mei 2020 (Dag 57)
Romeine 4 : 18 “Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo”.
Natuurlik is daar baie dinge wat net nie vir jou sin maak nie...
Praat ek net namens myself? Of wonder jy ook soms oor jou geloof; partykeer selfs oor God? Hoe ervaar ek Hom in die realiteit van my lewe wat ek leef in die jaar 2020. Hier en nou, saam met die res van die wêreld. ‘n Wêreld wat vasgevang is in talle onsekerhede en verwarring. Dan is dit goed weet jy, dat ons opnuut weer kyk na ‘n stukkie van Abraham se lewensverhaal.
Abraham.. Kan dit wees? Word hy dan nie genoem die vader van die gelowiges nie? Ja - maar nié om ons moedeloos te maak wanneer ons dink dat óns geloof nie op “standaard” is nie; vers 16 sê: “Hy is die vader van ons almal!” Sterk gelowiges, én swak gelowiges; ál SY kinders; ook hulle wat die taal ken van: Ek glo Here, kom my ongeloof te hulp..
Abraham se lewensverhaal is gelaai met grootskaalse verwarring. Dink maar aan twee ingrypende gebeurtenisse: Toe hy saam met sy pa Tera, uit sy geboorteland moes trek, en dat hy en sy vrou Sara kinderloos was. Twee goed wat sy lewe erg moes verwar het: ‘n man sonder ‘n woonplek én sonder ‘n nageslag. Vir daardie tyd, ‘n man sonder enige toekoms! En dit vir ‘n man wat soveel mooi beloftes van die Here ontvang het.
Dink maar aan die belofte van ‘n groot nageslag! Abraham het goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was en dat Sara te oud was om kinders te hê. In Gen 17:17 lees ons dat Abraham op sy knieë geval het van die lag! Met respek gesê het hy dalk kon dink: Op 100 is sy eerder ‘n kandidaat vir die kerkhof as vir die kraamsaal.
En tog het Abraham bly hoop en glo. Vers 20: “Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk.” En as jy wonder wat hét Abraham versterk, dan antwoord Paulus in die volgende vers (21): “Hy was oortuig dat God die mag het om te doen wat HY beloof het”.
Die wonderlike is dat dit nog dieselfde God is in Wie óns glo! HY wat deur Sy Seun, Christus die Here, gesê het: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld”.
Wat ‘n troos vir hierdie benouende tyd, met al sy onbekende virusse. Maar vir SY kinders ‘n vaste geloof en hoop op ‘n heerlike vooruitsig hierna!
Nog gehoop en nog geglo. Dís my enigste troos in lewe en in sterwe, dat ek nie aan myself behoort nie, maar aan my getroue Saligmaker, Jesus Christus!
Ds. Willie Badenhorst (Emeritus)
Alberton