Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Verbly julle altyd in die hoop - 23 April 2020  (Dag 28) 

In Romeine 8 is Paulus besig met 'n reuse bemoedigingspoging vir die Christene van sy tyd. 

Hy teken met sy pen as’t ware vir hulle 'n skildery van 'n mooi dagbreek wat beslis in die toekoms vir hulle gaan aanbreek. Daarom praat hy in vers 18 van die heerlikheid wat God In die toekoms sal laat aanbreek vir Sy volgelinge. 

Tot op die groot dag wat met die wederkoms sal aanbreek het gelowiges een groot ding wat hulle dra en motiveer: Hulle hoop! Hulle verwag iets moois en sien daarna uit dat dit waar sal word, hulle hoop daarop! Dis nie 'n mensgemaakte hoop nie. Nee sê Romeine 8 vers 20: God ons het die belofte van hoop gegee. En ja, sê Paulus, dit is wel so dat die hele skepping vasgevang is in ‘n kringloop van verganklikheid en dat die hele skepping ook (soos ‘n swanger vrou) sug en swaarkry in die pyne van verwagting oor 'n nuwe geboorte, 'n nuwe lewe wat kom - daar is hoop, dit gaan kom! 

En sê Paulus verder, nie net die skepping nie , maar ook ons as Christene wat die Heilige Gees ontvang het as ʼn voorsmaak, ‘n eerste paaiement van die ewige lewe, ook ons sug en kry soms swaar in hierdie lewe oor die stukkendheld, gebrokenheid van alles - maar ons hoop! Ons sien uit, ons wag met volharding op al die wonderlike dinge wat God belowe het vir Sy kinders! 

Romeine 8 sê, ons wag, ons wag met volharding! Die woordjie wag in die Griekse taal sê: Jy wag gepanne soos 'n gholfspeler wat 'n lang hou op die setperk moet inslaan en die balletjie gespanne dophou om te sien of dit oor meters heen uiteindelik in die putjie gaan val! 

Dit beteken om aktief te wag, dinamies te wag, tot die uitslag daar is! 

Dit is soos gelowiges moet hoop op wat nog nie gesien kan word en wat God belowe het vir ons. Ons wag volhardend met volharding, met gespanne verwagting: Dit gaan kom! Dit gaan nog waar word I 

Daarom is hoop so baie belangrik vir ons almal! Die Bybel is boordensvol daarvan om ons aan te spoor tot volhardende hoop. In Romeine 4 lees ons van Abraham dat hy 'toe daar geen hoop meer was nie, nog gehoop en bly glo het dat God vir hom 'n nageslag sal gee'. 

In Romeine 12 vers 12 roep Paulus ons op en sê: "Verbly julle altyd in die hoop, staan vas in verdrukking, volhard in gebed”, ja wees bly oor die wonderlike toekoms wat vir julle voorlê! 

Romeine 15 vers 4 sê: “Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees.” En sê vers 13: “Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!”

Daarom sê ons: Christene is mense wat met volharding bly hoop en werk! Sonder hoop verval 'n mens in wanhoop, moedeloosheid en swartgalligheid. As hoop se laaste spore vergaan, stort jou hele bestaan uiteindelik inmekaar! 

Daarom, kom ons bly hoop met regte egte hoop, hoop wat saak maak! Dis wat Bybelse hoop doen! Dit laat jou opkyk en wag, werk met 'n vonkel in die oog! Selfs as alles klaarpraat en kapot is, lig die Bybelse hoop jou telkens weer op, laat jou steeds vertrou en waak en werk met moed!  

Wat is die hoop waaraan ons moet vashou? Net maar die feit dat ons toekoms in die hande van die lewende Here is. Die toekoms van die wêreld, elke volk en taal en nasie, ja ook elke individuele mens is in die hande van die lewende Christus! 

Al sug ons soms oor baie dinge, veral in 'n tyd soos hierdie met die Koronavirus, ons bly hoop dat al God se beloftes nog gaan waar word!  

Geloof, hoop en liefde! Die liefde is die grootste, maar die geloof en hoop is net so belangrik! 

Ds. Hennie Bekker 
George 
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: