Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Sy genade is groot - 23 Julie 2020 (Dag 119) 

“Laat my liewer in die hand van die Here val, want sy genade is groot” (2 Sam 24:14b). 

Pessiektes het deur die eeue dikwels voorgekom. Vra maar vir Dawid. Hy het al die weerbare manne in ’n sensus opname laat tel. Dit was seker in ’n tyd toe sy koninkryk goed gevestig was. Na nege maande en twintig dae was Joab en die leëroffisiere terug en was die getal soldate wat hulle getel het altesaam so ongeveer een miljoen en driehonderd duisend man. Dit was egter ʼn tyd van geestelike verval, toe die Here weer, vanweë hulle sonde, kwaad was vir sy volk. Die gedagte om die volk te tel het as ʼn versoeking na Dawid gekom. Dit was ʼn versoeking van die Satan wat deur die Here toegelaat is. Joab het reg aan die begin, toe hy die opdrag van die koning kry, ingesien dat dit ʼn verkeerde ding was (vgl. 2 Sam 24:1-25 en 1 Kron 21:1-30). . Die sonde in hierdie optrede van Dawid het daarin gelê dat hy hoogmoedig geword het en nie meer in afhanklike vertroue op God gelewe het nie.

In baie van Dawid se Psalms, ook in Psalm 18 wat in 2 Samuel 22 opgeteken is, bely hy sy diepe afhanklikheid van die Here, ook wanneer hy gaan oorlog voer het. In hierdie stadium van sy koningskap wil hy egter seker maak van die mag waaroor hy beskik het, deur die weerbare manne in Israel en Juda, te laat tel. Hy het sy vertroue in die Here verloor. Deur die volk te laat tel, doen Dawid eintlik ʼn gevaarlike ding. Die telling sou ʼn sondelas op Israel word, soos Joab dit stel in 1 Kron 21:3. So ʼn volkstelling was eintlik ʼn soort inspeksie, waar elkeen onder die oog en oordeel van God geplaas is. In Eksodus 30:11-16 word die versoeningsoffer wat tydens ʼn sensus gebring moes word, beskryf. Elkeen wat in Israel getel word, moes ʼn offer bring, om ʼn ramp of plaag wat oor hulle sou kom, te vermy. So ʼn offer sou hulle lewens loskoop.

Joab het toe wel die mense gaan tel, maar die opdrag ook nie heeltemal voltooi nie, want dit was vir hom ʼn gruwelike ding om te doen. Dawid besef dat hy verkeerd opgetree het en bely sy sonde. Die Here stuur die profeet Gad om vir Dawid te laat kies tussen drie moontlike maniere waarop Hy sy volk wou tugtig, naamlik: drie jare van hongersnood; drie maande van militêre verliese teen sy vyande; of drie dae van pessiekte wat die land sou tref. Hierdie laaste aanwysing van straf word beskryf as van die Here self. Dawid maak nou hierdie merkwaardige uitspraak: “Laat my liewer in die hand van die Here val, want sy genade is baie groot. Ek wil nie in die hand van ʼn mens val nie.” 
(1 Kron 21:13).

Die pes het hulle getref. Dawid verloor toe nog 70000 van die weerbare manne wat hy laat tel het. Dit het die militêre mag waarop hy vertrou het, verswak. Toe hy sien hoe swaar die Here besig was om sy volk te tref, het hy vir hulle gaan intree in gebed. Hy het ook ʼn versoeningsoffer vir die Here gebring op die dorsvloer van Arauna. Die Here trek toe in sy genade hierdie oordeel terug.

Met die huidige pandemie van die Korona Virus en die Covid -19 siekte wat die hele wêreld teister gaan daar ’n duidelike boodskap van verootmoediging en toewyding uit veral op elektroniese media. Die sekerhede wat die mens op vertrou het, veral in die ekonomiese stelsels, werkverskaffing, mediese wetenskap, tegnologie, ens. stort in duie. Dit is nou nodig om weer ons afhanklikheid van die Here te bevestig Dit beteken nie dat daar altyd ’n direkte verband tussen sonde en siekte is nie, maar in ons materialistiese en sekulêre samelewing het ons Hom uit ons daaglikse bestaan uitgeskuif.
 
Vir almal wat hulle verootmoedig en in berou voor Hom buig, is daar genade en vergifnis. Mense tree dikwels wreed teenoor mekaar op, maar almal wat hierdie genade van God in Christus leer ken het, kan saam met Dawid getuig: “Laat my liewer in die hand van die Here val, want sy genade is baie groot. Ek wil nie in die hand van ʼn mens val nie” (1 Kron 21:13b).

Dr Ben Jackson
Jeffreysbaai
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: