Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Hy sal jou hand nie los nie - 23 Junie 2020  (Dag 89) 

Lees: Johannes 10:27-30

Hoe vas staan my verhouding met die Here? As ek sterwe, hoe seker is ek dat ek hemel-toe gaan? Dit is van die vrae waarmee mens gekonfronteer word as jy hoor van die toenemende aantal sterftes en jy besef hoe sterflik jy self ook is. Die vraag is dan: Kan mens seker wees van hierdie dinge? Is dit nodig om seker te wees? Waarop berus hierdie sekerheid?

Die antwoorde is ‘n besliste: Ja jy kan seker wees . Ons aanbid nie ‘n God wat ons in die duister wil hou nie. Telkemale verseker Hy ons in sy Woord van sy liefde vir ons en liefde beteken onder andere om ‘n oop pad te loop met die een vir wie jy lief is.

Op die tweede vraag is die antwoord ook ‘n duidelike “Ja”. Om in onsekerheid te lewe raak mens se lewenskwaliteit baie negatief. As jy bv in jou huwelik onseker moet wees van julle twee se verhouding met mekaar, is dit ‘n rampspoedige, ongelukkige huwelik sonder veel kwaliteit. As jy siek is en die dokter verklaar dat jou siekte nie gediagnoseer kan word nie, lei dit tot moedeloosheid en geweldige spanning. So kan ʼn mens voortgaan: Onsekerheid beteken ‘n gespanne, kwaliteitlose en ellendige lewe.

Die derde vraag is dus van die uiterste belang: Waarop rus die sekerheid van jou verhouding met die Here? Baie beslis kan die nie berus op jou emosie nie en ook nie op ‘n sogenaamde mooi lewe nie want hierdie dinge is te veranderlik om sekerheid te bied Waarop dan wel? Die enigste onveranderlike ewig-vasstaande is die Here God en sy Woord, die Bybel. Vs 28 sê baie ondubbelsinning vir ons dat ons nie self die ewige lewe kan verwerf of selfs verdien nie. “Ek gee hulle die ewige lewe” sê Jesus. Dit is dus ‘n gawe van Hom wat ons uit genade ontvang . Die sekerheid is dus nie in enigiets van myself geleë nie maar in die genade van die getroue God wat in 2 Tim 2:13 van Hom laat skryf: “As ons ontrou is – Hy bly getrou”

Maar sê nou ek los die Here se hand? Vs 28-29 gee vir ons hier ‘n dubbele versekering: Eers sê Jesus: “Niemand sal hulle uit my hand ruk nie” en asof dit nie genoeg is nie vervolg Hy in die volgende vers met “niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie” Dit hang dus nie af van hoe vas ek die Here se hand hou nie maar van die feit dat Hy my hand vashou en as Hy eenmaal my hand gevat het laat Hy dit nooit weer los nie

In hierdie onseker tye waarin ons leef is dit ons grootste troos en krag: Ek behoort aan die Here en niemand en niks kan dit verander nie Laat ons nie net self daaraan vashou nie maar ook mekaar bemoedig in ‘n tyd wat hierdie sekerheid meer as ooit belangrik is.

Ds. Faf Gertenbach
Jeffreysbaai 
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: