'n Roep tot God in afhanklikheid - 23 Mei 2020 (Dag 58)
COVID-19 is elke dag in ons gesigsveld. Op elke nuuskanaal is die inligting onophoudelik voor ons. Kennis word gereeld uitgebrei. Elke land in die wêreld se statistieke flits voor ons verby. Ons ken die leiers van die wêreld en hulle standpunte en beleide. Ons ken tot die name van sekere state se goewerneurs in Amerika, van Donald Trump nie eens te praat nie.
In ons eie land is die virus die middelpunt van ons gesprekke. Ons maak koorsagtig maskers met die mees innoverende patrone. Ons “katkiseer’ ons inwonende dienspersoneel teen die gevare van die virus. Natuurlik moet ons ingelig wees ten opsigte van die virus. Dit is lewensbelangrik en raak ons daaglikse bestaan en toekomsbeplanning. In die verwerking van al die inligting, kom daar soms ‘n gevoel van magteloosheid en vrees by jou op . Emosioneel en geestelik kan mens maklik die spoor byster raak.
Ps 123 leer ons om in tye soos hierdie op te kyk na God in die hemel. Dit is ‘n pelgrimslied wat die Jode op Pad na die feeste in Jerusalem gesing het. Hulle sing dit, met hulle oë opgehef na bo; na die hemel en smeek om genade. Hulle lewensomstandighede is moeilik, hulle sukkel om daarmee vrede te maak. Hulle is trouens die volk van God; Hy is hulle God en hulle is sy slawe en slavinne wat Hom dien. Hulle vra Hom as Eienaar om af te kyk en hulle nood raak te sien.
Wroegend kom dit twee maal: “ Wees ons genadig Here, wees ons genadig.”. Hulle voel verneder deur die selfvoldane uittarting van hooghartiges en mense wat op hulle neersien. Hulle is immers Sy verbondsvolk wat geregtig is op Sy beskerming en hulp in hulle moeilike omstandighede. Hulle herinner Hom aan die ooreenkoms dat Hy belowe het om hulle God te wees en hulle Sy volk sal wees.
Baie mense worstel vandag met die huidige bedeling en sukkel om dit te verwerk. Ons kan nie Ou–Israel se situasie net so op ons omstandighede van toepassing maak nie. Belangrik is egter, is om te weet dat ons familie is, kragtens ons geloofsverbintenis met die Verbondsgod. Ons mag in 2020 met vrymoedigheid ook net soos Israel, ons oë ophef na die hemel en ernstig bid: “ Na U kyk ek op, U wat in die hemel heers.”. Gegewe die omstandighede tov COVID-19, en die impak wat dit op ons ganse lewensbestaan het, voel ons, dat ons meer as genoeg gehad het. Die uitnodiging van die Here: “ Vra en vir julle sal gegee word, soek en julle sal vind, klop en vir julle sal oopgemaak word”. ( Matt 7:7,8), inspireer ons tot hierdie oproep.
Natuurlik kan ons op grond van die oorwinning van Jesus Christus oor die dood en graf wat ons op Paasfees gevier het, en die troonbestyging van Jesus op Hemelvaart, ons oë ophef en bid soos Jesus Sy dissipels en ons geleer het met “ Onse Vader wat in die hemel is” en wat daarop volg. Ons mag om genade bid, want God skenk genade, rus en vrede. “ Hy gee ons, ons daaglikse brood, Hy vergewe ons, ons sondes en verlos ons van die Bose”.
As verlostes in die Here het ons waarde wat verreken behoort te word deur die owerheid. Die liggaam van Christus, die Kerk, is geroep om vir die wêreld in sy nood in te tree. Ons mag nie uitgerangeer word in die hantering van die krisis nie. Ons is diensknegte en diensmaagde van Christus wat nie geminag kan word nie. Kom ons wees opreg en roep in ootmoed tot God. Kyk op na Hom en bid getrou: “ Ons Vader wat in die hemel is.”. Leef geborge in ons God, die Vader en die Heilige Gees.
Ds. Herklaas Viljoen ( Emeritus)
Bela-Bela