Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Jesus Christus is ons Hoop - 24 April 2020  (Dag 29) 

In Paulus se brief aan Timoteus skryf hy so in 1 Timoteus 1 vers 1 : “Van Paulus, ’n apostel van Christus Jesus in opdrag van God ons Verlosser en van Christus Jesus ons HOOP”

Hier word dus uitdruklik verklaar dat ons HOOP, ja ons enigste HOOP is Jesus Christus.

Ek dink aan drie redes waarom Jesus Christus ons Hoop is:
- Omdat Hy die HERE is. Ons lees in Fil 2 vers 9:”Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig en elke tong sou erken:” Jesus Christus is HERE ! “ tot eer van God die Vader” ( Paulus haal waarskynlik aan uit ‘n lied wat in die Vroeg Christelike kerk gesing is) En in Kol 1 staan daar Kol 1 vers 15 “Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping” en verder in vers18 c : “Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem” Uit dit alles blyk tog duidelik dat die ganse wêreld, die heelal onder Sy beskikking is. Hy is die magtige HERE, DIE HOOF, DIE BESKIKKER oor alle dinge. In Sy hande is ons veilig-Hy is ons Troos, ons Hoop. 

- Omdat Hy uit die DOOD OPGESTAAN het. Daarvan lewer die vier Evangelies besondere getuienis. “Hy is nie hier nie, Hy het opgestaan , die graf is leeg.” En in sy aangrypende hoofstuk oor die Opstanding-1 Kor 15 skryf Paulus in verse12-20 in wat ‘n hopelose situasie ons sou wees as Christus nie opgestaan het nie- die ellendigste van alle mense. Dan was alles tevergeefs- ons geloof, ons prediking, dan was ons nog vasgevang in ons sondes! Maar nou: Christus het opgestaan, ons groot vyand waarvoor ons huiwer, waarvoor ons dalk in vrees is, het Hy verslaan. 1 Kor 15 :54 “Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal. Dood waar is jou oorwinning? Dood waar is jou angel?” So ook hier is Hy ons Hoop en ons Troos-vertrou ons op Hom alleen.

- Omdat Hy die OORWINNAAR is. In Kol 2:15 staan daar:” Hy het die bose magte ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer.” Hier word Christus beskryf as die triomferende generaal wat sy vyand verslaan het en hulle in kettings vasgebind het aan sy strydwa, nou sy triomfwa en hulle vernederend in sy tuisstad vertoon. Hierdie vyand is die duiwel en al sy bose magte. Christus is met alle respek gesê die groot Victor Ludorum wat die oorwinning behaal het. En ons is in Sy hand en by Hom is ons veilig. Hy is ons Hoop.

Prakties beteken dit dat Hy, en veral ook in hierdie dae, dat Hy ons Hoop is, en met hierdie vier terroriste wat ons lewens versuur, afreken- en dit is:
Sonde - daarmee het Hy aan die kruis afgereken. Toe Hy uitgeroep het: “Dit is volbring” was dit afgehandel, ons sonde versoen, ons skuld betaal, vir ons die volkome vergiffenis en vryspraak verwerf. Daarvan getuig die Bybel op so baie plekke bv . Efes 2, die Romeine brief, die brief aan die Hebreërs, ens. Ek haal die een teks aan, Kol 2:14:”Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.” Wat ‘n heerlike belofte en troos! Natuurlik stry ons nog elke dag teen die sonde in ons eie lewe, voel ons soms skaam en hartseer daaroor, maar deur die Opstandingskrag van ons Here moet ons dit ook oorwin.

Siekte - hoeveel pyn en hartseer en lyding gee dit nie vir ons nie! Ons dink maar in die tyd aan die baie siekes in ons land en oor die wêreld heen. Ons kan nie anders as om voortdurend vir hulle te bid nie. Maar Jesus is die groot Geneesheer- daarvan is die Evangelies vol. En deur die eeue tot vandag genees Hy mense, en natuurlik is die mediese wetenskap ‘n verlengstuk van Sy skeppende genesende hand- span HY die mens se brein en hande en kundigheid in om te help en te genees. In my eie lewe en bediening het ek dit soveel keer ervaar.

Dood - ons laaste vyand, die het Hy verslaan. Ons het al daaroor gepraat en tog bly dit vir ons ‘n vyand wat vir ons baie hartseer inhou. Maar die Here Jesus het hierdie verskrikking van die dood vir ons die poort gemaak waardeur ons vir altyd by Hom gaan wees. Ons aardse tentwoning word afgebreek - dis maar tydelik en nie teen die storms bestand nie - en dan kry ons ‘n ewige woning, ‘n gebou nie met hande gemaak nie maar ewig by God.(2 Kor 5)

Sinlose lewensbestaan. Ja ons voel soms so. Nadat ek afgetree het ek al soms so gevoel - niemand het jou meer nodig nie, die foon lui nie meer nie, niemand klop meer aan die voordeur nie. Was alles deur al die jare maar betekenisloos? Tot by verrassende kere waar jy uit onverwagte oorde die teendeel hoor. In die Griekse mitologie is daar ‘n figuur met die naam Sisiphus, en hy was elke dag besig om ‘n groot ronde klip die berg op te rol, maar net wanneer hy amper bo is, glip die klip uit sy hande en rol dit weer bergaf. En dan moet hy weer begin - eindeloos , sinloos. So is ons lewens tog nie. Juis deur Jesus se Opstanding gee Hy sin en betekenis aan ons lewens. In 1 Kor 15 :58 staan daar: “Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie.” Alle werk wat ons doen is tog in diens van die Here.

JESUS CHRISTUS is ons HOOP. Hy is ons enigste Troos in lewe en sterwe. Daarom hou ons in hierdie tyd en elke dag aan Hom vas.

Ds. Hennie Horn.
Montanapark, Pretoria  
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: