Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Prys die Here! - 24 Julie 2020 (Dag 120) 

Psalm 150:6: Laat alles wat asem haal, die Here prys! Prys die Here!

Psalm 148 is ‘n oproep vir alle lewende wesens om die Here te prys. Daar is ‘n redelike lang lys wat genoem word in daardie Psalm, naamlik engele, hemelwesens, die son, die maan, die sterre, seediere, wilde diere, regeerders, vee, alles wat kruip of vlieg, en so meer. Die rede hoekom ek Psalm 148 ook betrek in hierdie geval, is om klem te lê op die woord ‘alles’ in ons teksvers. Dit gaan dus nie net om alle mense wat opgeroep word om die Here te prys nie – nie net almal nie, maar alles. Die hele skepping. Alles wat asemhaal. 

Teen daardie agtergrond lees ek onlangs ‘n interessante artikel, Coronavirus: Birdsong seems louder and the ravens are more relaxed, in die Irish Times van 17 April 2020. Die verslaggewer Colm Keena het dit geskryf na aanleiding van ‘n gesprek met Matthew Jebb, die Direkteur van die Nasionale Botaniese Tuine van Dublin. Daarin word genoem dat die grendeltyd mense meer laat fokus het op die omgewing. Belangstelling in programme op die internet met ‘n gerigtheid op natuurbewaring het byvoorbeeld met 350 persent gestyg. Jebb noem dat die kraaie meer ontspanne is as gevolg van die minder geraas en besoedeling. Die voëls sing ook harder die afgelope tyd. Hoewel die geraas van voertuie dramaties geval het, is dit nie net die verminderde geraas wat die voëls meer hoorbaar maak nie. Navorsing het getoon dat die voëls in der waarheid harder sing in hierdie grendeltyd as normaalweg. 

Vir mense en voëls is sing natuurlik nie dieselfde ding nie. ‘n Gebrek aan spasie verhoed my egter om breedvoerig daarop in te gaan. Om egter weer met ‘n kortpad aan te sluit by ons teks (Psalm 150:6) en Psalm 148, soos hier bo genoem, het ek nie twyfel dat die sang van voëls die lof van God verkondig nie. Al is dit bloot in die harte van mense wat dit sien en hoor en God eer vir Sy wonderlike skepping – ook vir die sang van voëls. 

As voëls dan waarneembaar harder sing in hierdie grendeltyd, sal ons, wat die kroon van God se skepping is, dan nie ook die Here met groter toewyding dien nie? Sal ons lof aan God dan nie ook waarneembaar harder wees nie? As jy kan sug, kan jy sing ook. Kom ons prys die Here!

Gebed: Here, by alles wat asemhaal wil ek ook my stem voeg en U lof besing. Ek kies om te sing eerder as om te sug. Amen

Dr. Enrico Casaleggio 
Bloemfontein
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: