Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Staat van inperking  - Boodskap van Hoop


Ons almal is op een of ander wyse vasgevang in ons eie omstandighede en onsekerhede oor die tyd waarin ons is.  
Loer dus gereeld  in op die webblad om kort inspirerende dagstukke te lees wat gereeld aan ons lede versprei word. Indien u wil inteken  op die dagstukke stuur gerus 'n e-pos na kommentaar@abond.co.za  
of volg die  onderstaande skakel onderaan die bladsy. 
Die meester word die minste - 24 Mei 2020  (Dag 59) 

Lees: Johannes 13: verse 1—17.

Hierdie gebeurtenis wat Johannes hier beskryf vind plaas op die Donderdagaand voor die Vrydag waarop JESUS gekruisig is . Dit was die belangrike PAASFEES maar ook die geleentheid waarby die NAGMAAL ingestel is . Dit is by hierdie geleentheid waar Jesus Sy dissipels se voete gewas het. Gewoonlik het Jesus deur Gelykenisse met Sy dissipels gepraat maar op hierdie aand illustreer HY wat Hy wil sê met ‘n heerlike daad vol betekenis (die gebeurtenis van die voetewassing kry ons net in die Johannes Evangelie)

In Joh 13 vers 1 lees ons dat Jesus voor die Pasga geweet het dat die tyd vir Hom gekom het. En: dat Hy sy eie mense in die wêreld liefgehad het, tot die uiterste toe liefgehad het. Daarom was Hy hulle voete - nie om hulle skaam te maak nie maar Sy liefde vir hulle te vertoon. Ons kan sê dat hierdie ‘n TOONBEELD van Sy liefde was. Ja ons weet dit mos goed: God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. (Joh 3:16) Daaroor jubel ons altyd. 

Paulus skryf ook in Romeine 8:38 “Hiervan is ek oortuig dat: “geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” Paulus skryf dit in ‘n oorwinnende jubelende toon. En dit geld vandag nog vir ons in hierdie krisistyd, grendeltyd, Korona en Covid-19 tyd. Ons kan verseker wees van Jesus se oneindige liefde-selfs in siekte en dood.” Die liefde van Jesus is wonderbaar!’

Op die Donderdagaand het die volmaan helder geskyn, en alles was gereed vir die Paasmaaltyd om te begin. Jesus het met hartseer bemerk dat die dissipels nie met hulle aangewese plekke aan die tafel tevrede was nie. Lukas skryf dat hulle elkeen in hulle eie oë die belangrikste was. Hulle het in elk geval by die tafel hulle plekke ingeneem en by die tafel aangelê - nie gesit soos ons nie - maar op die linkersy aangeleun sodat die regterhand vry kon wees om te eet.

Drie dinge het op die aand eenkant ongebruik bly staan. ‘n Kruik met water en ‘n waskom en ‘n afdroogdoek. Gewoonlik is die aanwesiges se voete dan eerste gewas omdat hulle sandale gedra het en hulle voete vol stof was. Maar op hierdie aand gebeur dit nie. Nie omdat dit nie nodig was nie, maar omdat daar geen slaaf teenwoordig was nie. Alles was gereed, die kos was op die tafel, maar niemand verroer ‘n vinger nie. Ek glo jy kon ‘n speld hoor val. En toe….verbysterend…:die Meester, Hy wat die meeste is, word die minste . Hy trek Sy bo-klere uit en net met die doek van ‘n slaaf om Sy heupe begin Hy die dissipels se voete te was - twaalf paar voete, een vir een, en jy hoor niks nie - net die water wat rinkel in die kom. Ook Judas se voete was Hy - die kom nou net van die owerstes af waar hy Jesus vir 30 silwerstukke verkoop het. En toe Jesus by Petrus kom sê hy vir Jesus : U sal in alle ewigheid nie my voete was nie. Waarop Jesus toe sê: as ek jou nie was nie het jy geen deel aan My nie. Petrus reageer en vra: dan nie net my voete nie maar ook my hande en gesig, en Jesus vir hom antwoord en sê dat die wat klaar gebad het is heeltemal skoon. Jesus wil dit vir ons ook sê : as Ek jou nie was nie , het jy geen deel aan My nie. En so kom ons by die groot betekenis van hierdie daad van Jesus. Hierdie was ‘n simbool, ‘n SINNEBEELD van wat Hy die volgende dag aan die kruis sou doen. Dan sou Hy nie net voete was nie, maar ons hele lewe met Sy bloed was — hart en hande, gemoed en gewete, ons doen en late. Dit kan water nie doen nie, maar die bloed van Jesus reinig van alle sonde! Dit was ‘n Sinnebeeld van dit wat aan die kruis sou gebeur.

Toe Jesus klaar hulle voete gewas het, trek Hy weer Sy bo-klere aan en neem Sy plek by die tafel in en sê Hy vir hulle “Verstaan julle wat Ek gedoen het? Julle noem My julle Leermeester en Here en julle is reg want Ek is dit……as ek dan julle voete gewas het behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het vir julle ‘n VOORBEELD gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen” “Julle weet dit nou, gelukkig is julle as julle dit ook doen” Wat ‘n dringende woord van ons HERE. Ons is eerder geneë om mekaar die kop te was. Ons moet regtig diensbaar wees. 

Elders het Jesus gesê : Die grootste onder julle is die een wat dien! En dis vir ons soms moeilik en veral in hierdie grendeltyd en ons weet van baie mense wat ly en arm is en honger en weerloos is in die tyd. Hoe kan ons help en ons weet dit hou groot gesondheidsrisiko’s in. Maar ons is dankbaar vir so baie gesondheidswerkers wat in hierdie tyd hulle lewe op die spel plaas en ons bid ernstig vir hulle almal. Mag die Here vir ons land en wêreld uitkoms bring.

Die pragtige daad van die Meester wat die minste word: ‘n TOONBEELD, ‘n SINNEBEELD, ‘n VOORBEELD.

Mag dit vir ons elkeen groot betekenis hê!

Ds. Hennie Horn.
Montanapark. Pretoria.
Terug na Boodskappe van Hoop
Share by: