Moet oor niks besorg wees nie - 25 April 2020 (Dag 30)
Paulus, die skrywer van die brief aan die Filippense, moes dikwels in sy lewe met die spreekwoordelike rugkant teen die muur staan. Maar nooit was hy in sulke situasies in die greep van selfbejammering en totale neerslagtigheid nie. Hy was etlike kere in die tronk, maar altyd het hy verby sy eie krisis en nood gekyk om ander mense te bedien met woorde van troos en bemoediging.
Terwyl Paulus hierdie brief aan die Filippense skryf, hang daar donker wolke oor sy lewe. Sy omstandighede is haglik en sy gesondheid was alles behalwe goed. Hy het alreeds ver gevorder op die lewenspad en asof dit nie genoeg is nie, sit Paulus in die tronk in Rome. En, nou skryf hy vir die mense van Filippi ʼn wonderlike brief, met vier hoofstukke, om hulle te vertroos en te bemoedig.
En dan sê hy vir hulle in Filippense 4:6 “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.”
ʼn Mens wonder hoe die eerste lesers van Paulus se brief hierdie sinnetjie verstaan het: “Moet oor niks besorg wees nie.” Dit was makliker gesê as gedaan. Hulle hele lewe het uit kommer en sorg bestaan. Die eerste Christene was grotendeels slawe, of mense wat gesukkel het om ʼn bestaan te voer. Hulle was nooit heeltemal seker waar die volgende bord kos vandaan sou kom of waar hulle klere vir die kinders sou kry nie. Nou hoor hulle dat hulle oor niks besorg moet wees nie.
Tog is dit presies wat Paulus hier bedoel het. “Moet oor niks besorg wees nie.” Die Griekse woord wat hier in Afrikaans met “besorg” vertaal word, kan baie ander betekenisse hê. Dit verwys na enige iets wat ʼn mens se geluk en vrede kan bederf, enigiets wat ʼn mens laat voel dat jou omstandighede nie is soos jy dit graag wil hê nie. Die oorsaak kan gevind word in enige vorm van teenspoed, verdrukking of selfs droefheid en gemis.
Ons leef tans in baie moeilike tye. Daar heers ʼn gees van somberheid en pessimisme oor die land heen. As burgers van die land is ons tans ingeperk. Die Koronavirus (Covid-19) bedreig ons almal. Die ekonomie neig afwaarts, daar is bankrotskappe en mense verloor hulle werk. Te midde van al hierdie moeilike omstandighede kom sê Paulus vir ons “moet oor niks besorg wees nie.” En dan vind ons die rede waarom Paulus hierdie bevel aan ons kan gee aan die einde van vers 5 waar hy sê: “Die Here is naby.”
Ons kan as gelowiges, altyd onder alle omstandighede bewus wees van die nabyheid van ons Hemelse Vader. Sy Heilige Gees woon in ons hart en Hy is ons Trooster, ons Bemoediger ons Leidsman en ons gedurige Metgesel deur die lewe. Hy kan en wil in elke behoefte voorsien.
Paulus vermaan ons in vers 6 “Moet oor niks besorg wees nie” - moenie toelaat dat iets julle ontstel nie – want die Here is naby. Die vraag is nou: As ons dan nie besorg moet wees nie, wat moet ons dan doen? Moet ons nou maar ons rug draai op ons probleme en ons droefheid en dit ignoreer? Moet ons handel asof dit nie bestaan nie?
Nee dit sal ons niks baat nie en dit los ook niks op nie. Hier in Filippense 4:6 gee die Here aan ons die ideale oplossing as Paulus sê : “Maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.” Alles kan ons vir hom sê. Niks kan te belangrik of te onbenullig wees om in die gebed vir Hom te noem nie. Hy nooi ons uit met smeking, ernstige volhardende gebed tot Hom te nader met al ons behoeftes en begeertes.
U vra miskien: As ek die Here nou so op Sy Woord neem en ek gaan na Hom in gebed, smeking en danksegging- wat sal die gevolg wees? Die antwoord word aan ons gegee in die daaropvolgende vers 7: “ En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” Dit is ʼn vrede wat nie deur uiterlike omstandighede versteur kan word nie. ʼn Vrede wat blywend is, daarom word dit “Die vrede van God” genoem – dit is die vrede wat God gee.
Ons staan tans voor ʼn onbekende toekoms. Niemand weet wat die toekoms vir ons gaan bring nie. In een dag of in een week, kan daar ʼn radikale wending in ons lewe of in ons land kom. Te midde van al hierdie onsekerhede roep Paulus ons op: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”
Met hierdie wonderlike troos en versekering van Paulus kan ons die toekoms tegemoet stap, met die sekere wete dat Ons Hemelse Vader in elke behoefte van ons ryklik sal voorsien.
Ds. Kosie Loots,
Bromhof, Randburg