'n Tweede mening - 25 Julie 2020 (Dag 121)
Vanselfsprekend ’n tweede mening nodig - Gewoonlik word hiermee uitdrukking gegee aan ’n behoefte omtrent verfynde advies in mediese verband, sakevertroue, of wat ookal. ’n Publikasie herinner daaraan dat ’n mens die tweede mening in jouself omdra, as jy minstens bereid is om kritiese vrae aan jouself te stel en eerlike antwoorde daarop te gee (Jordan B.Peterson, !2 Rules of Life, bl.254-5). Dít eintlik, as daar nie ’n gewillige luisteraar in die nabyheid is nie. Dan is dit belangrik om te weet dat die boek Prediker ons van dieselfde raad bedien (8:5-7). “Wie wysheid het, weet wanneer en hoe hy moet handel.”
Wie wysheid het, weet… Elke ding… (verstaan: watter saak onder die son ookal;
wanneer…? (bywoord van tyd, die een belangrike vraag wat jy jou moet afvra);
hoe hy moet handel…? – (bywoord van hoedanigheid, die ander belangrike vraag , want elke ding het sy manier), wat impliseer dat onmiddellik van die heup af skiet, gewoonlik meer kwaad as goed doen.
Die eenheid van die Ou en Nuwe Testament in gees en bedoeling word illustreer in die woorde van die Here Jesus: Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei (Joh. 16:13) – waarvoor Ps 119:30 as grondbeginsel van hierdie groot waarheid beskou kan word: die digter se uitgesproke liefde vir ‘die wet en die profete,’ toe hy verklaar: – “Wanneer u woord vir mense oopgaan, bring dit lig; dit gee insig aan dié wat nog onervare is.” Woord – lig – insig!
’n Beginsel wat sterk aanwesig is in wyle dr. Andrew Murray se ‘Overdenkingen voor eene maand,’ Op God wachten, Milborn, 1901, waarin sy voorwoord die groot probleem van sy dag soos volg definieer: ‘Het afgeloopen jaar, met zijn donkere oorlogswolk, en al de volstrekte onzekerheid waarin wij verkeeren, is Gods roepstem geweest…op Hem te wachten.’ Na sowat 120 jaar staan die Afrikaner steeds voor die kwessie van ultra-nasionalismes wat ontknoping van die na-oorlogse geskiedenis onopgelos gelaat het. Indien ’n Afrikaanse vertaling van hierdie dagstukkies nie tot stand gekom het nie, het die tyd daarvoor aangebreek – Daar moet voor God nuut gedink word oor die vraag hoekom die Afrikaners wat hier in die RSA, ons vaderland, aanbly en met ‘n bekende joernalis se boek getitel ‘Ek gaan nêrens nie,’ instem.
Prof Herman Gilliomee hanteer in die laaste paragrawe van sy boek die geskiedenis se oordeel oor die Afrikaner se vaderland-ideaal, met begrip en sonder veroordeling. Sal ons dan nie, juis daarom die lied van ‘Eenheid, Vryheid, Reg en Liefde’ hier te lande of dáár in die diaspora, opnuut aanhef nie (FAK sangbundel, nr.37 vers 3)? Ons kom voor nuwe en vreemde uitdagings, te staan: nogtans, naas bande van familieskap, geloofs- en taalgenootskap, hoewel hier en elders, die arbeid om den brode in ’n vreemde taal geskied, ons én hulle seker tog nog in Afrikaans bid – dat in doen en late ons deur die wysheid van die Skrifte gelei sal wees om vry en digitaal verenig in eie taal te leef. Gelowig en behoedsaam onderweg na die eskatologiese voleinding: ‘Naar de hemel door de voltooiing van de aarde’ (Teilhard de Chardin, paleontoloog en gelowige), Jak.2:14-17.
Dr Dunes van der Merwe
Somerset-Wes