Daarom kyk ons vorentoe met hoop - 25 Junie 2020 (Dag 91)
Lees Psalm 42 en 43
Die digter bevind hom in afsondering in ‘n heidense en vyandige landstreek, vêr weg van die tempel. Hier beleef hy ‘n intense verlange na die feestelike samekomste van die skare medegelowiges in die tempel en bo alles – ‘n vurige verlange na God self, wat in die tempel sy woning het.(42:2-4). Hy beleef dit dat God hom vergeet (42:10) en verwerp (43:2) het. Hy worstel met die groot vraag Waarom? (42:10, 43:2). Hierdie worstelstryd word vererger deur die spot van die heidene om hom: Waar is jou God? Telkens wil die hoop in hom deurbreek, maar dan sink hy maar weer weg in die golwe van wanhoop en vertwyfeling. Uiteindelik vind hy berusting wanneer sy klaaglied oorgaan in gebed en in ‘n nuwe oorgawe van vertroue in God. So kan hy die toekoms weer hoopvol tegemoetgaan en God weer loof (43:3,4)
Die ervaring van hierdie digter was helaas ook die ervaring van baie gelowiges deur die eeue. ‘n Nederlandse teoloog skryf: Hierdie psalm vertolk die ritme van die menslike hart en daarom word dit al 3000 jaar gesing.
Die feit is ook dat ons vandag met hom kan vereenselwig. Ook ons bevind ons in afsondering, verwyder van ons dierbares, afgesny van die gemeenskap van die gelowiges tydens eredienste, groepbyeenkomste, ens. Baie van ons leef in vrees dat hierdie virus ook ons en ons familie kan tref. Baie kry finansieel baie swaar, ens. Wanneer ons onder hierdie omstandighede na God roep om hulp en Hy antwoord nie gou nie, of nie soos ons gehoop het nie, kan dit maklik in ‘n geloofskrisis ontaard.
Wat is die oplossing?
Die digter het ontdek dat daar nie ‘n kortpad uit hierdie stryd is nie. Hy het egter maniere gevind om daarmee te worstel en hierdie maniere het hom uiteindelik gehelp om weer God se teenwoordigheid as ‘n werklikheid te beleef.
1. Hy het sy hart eerlik en opreg voor God uitgestort, sonder om terug te hou.
2. Hy herinner hom aan die seën wat die Here in die verlede oor hom uitgestort het.
3. Hy hou in hierdie stryd steeds aan God vas.
4. Hy volhard in gebed.
5. Hy het nie vergeet om God steeds te loof nie
Hierdie maniere kan ons ook help om God se teenwoordigheid weer as ‘n werklikheid te belewe.
Ons het egter Iemand by ons om ons in hierdie stryd by te staan, Iemand wat die digter nie gehad het nie: Jesus Christus. Hy het aan die kruis al ons waaroms op Hom geneem toe Hy uitgeroep het: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” Hy was deur God verlaat sodat ons deur God as Sy kinders aangeneem en nooit weer deur Hom verlaat sou word nie.
Deur sy opstanding het Christus ‘n nuwe lewe hier op aarde en ‘n nuwe toekoms moontlik gemaak, ‘n lewe hier saam met Hom (Matt 28:20) en ‘n toekoms sonder smart en trane waarin God nooit weer afwesig sal wees nie. Daarom kyk ons vorentoe met hoop, want ons weet die lig van God se nuwe dag sal deurbreek deur al die chaos heen.
Ds. Thys Lourens
Rooiberg, Limpopo