Sug met hoop - 25 Mei 2020 (Dag 60) Die padda, die muis en …
Die hele wêreld beleef nagmerries, vrese en onsekerhede. Ons is almal ingeperk in plekke van stilte. Ons is amper te bang om asem te haal. Wat kan ons wel doen? Ons kan binneshuis met mekaar praat, hartlangs praat en eet en slaap. En ons kan ook nog lees en ons in fabels verlustig. Miskien kan die onwerklike nog werklik word.
Ek het aan Aesopus die mistieke fabeldigter gedink. In een van sy bekendste fabels praat ’n muis met ’n padda. Die muis vra hom om hom tog asseblief oor die sloot sal help. Die padda willig in. Hy maak die muis se pote aan sy eie vas. Maar hy het ’n ander onderduimse plan met die arme muis. Hy wil hom laat versuip. “Sies vir jou padda!” Halfweg op pad duik die padda onder die water in. Die arme sopnat muis voel hy gaan verdrink. Die padda kwaak triomfantlik. “My plan het gewerk. Dis wat ek met muise maak!!” Maar ’n valk hang gulsig in die blou lug. Hy duik op die muis af en vreet hom op. Hy is nog nie klaar nie. Die padda is die valk se nagereg. Nie sleg vir een maaltyd nie.
Korona is nie ’n fabel nie. Dis die werklikheid. Philip Larken het ʼn gedig vir ons tyd geskryf:
This is the first thing
I have understood:
There is the echo of an axe
Within the wood.
Hoor jy ook die eggo van die byl? Die valbyl. Die doodslag.
Ons spartel soos die arme muis om veilig aan die oorkant te kom. Ons roep om hulp. As daar tog net ’n padda op ons pad kom. Wat ons uitkoms gaan wees, weet ek nie. Niemand weet nie. Al wat ons kan doen, is om van dag na dag te spartel. Dalk is daar uitkoms. Dalk nie. Ons spartel byna almal om kop bo water te hou. Daar is Eskom vol duisternis, die Rand wat ons al hoe meer laat bewe, armoede en siektes wat soveel mense teister. En dan is daar die “valk”, korona.
In die spartel om te leef en te oorleef, word ons van ons eie weerloosheid en kwesbaarheid bewus. Ek kan ook doodgaan. Maar dit is tog goed as ons ons broosheid leer ken en aanvaar. Met die monster korona voor oë moet ons ook leer om elke dag rondom ons te kyk. Dink tog aan en reik uit na die armes, Diè wat besig is om te verdrink. Diegene wat nie hulle daaglikse brood (kospakkies) ontvang nie. Doen iets vir hulle. Wees ’n mede-mens. Wat van die arme karwagte en bedelaars op die straathoeke? Leef met meer simpatie en empatie. Asseblief tog! Ons moet mekaar omhels ongeag ons godsdiens, taal, kultuur, kleur of titels. Dan kan ons weer die taal van die liefde praat.
In die tyd van Korona moet ons ook vorentoe kyk. Die rooiwimperdaeraad verskyn nog elke oggend. Dit gee aan ons moed. Laat ons mense met hoop word. Korona, jou vloeksteen! Jy sal ons nie onderkry nie! Jy sal ons nie uit die bloute vernietig nie. Nie jy nie. Jy sal nog die aftog blaas. Hoe gouer, hoe beter.
Ons moet van en met hoop leef. ‘Hope’ is the thing with feathers – só het Emily Dickenson gedig. Ek het die gedig vertaal:
‘Hoop’ is die ding met vere
Emily Dickinson. Bundel 13–4
‘Hoop’ is die ding met vere –
Wat in die siel neerstryk –
En die lied sonder woorde sing –
En nooit ophou nie – nooit nie –
En die soetste – in die rukwind – is dit gehoor –
En die storm moet onstuimig wees –
Wat die voëltjie kon laat swyg
Wat aan soveel warmte bied –
Ek het dit in die ysigste land gehoor –
En op die vreemdste see –
Tog het dit – nooit – selfs in hoogste nood –
’n Krummeltjie – van my geëis nie.
Laat ons spartel om kop bo water te hou. Maar, asseblief tog, moenie in hemels naam hoop prysgee nie. Leef van daardie krieseltjie en gee dit ook aan die ander naby, rondom en ver van jou af. Net ’n krieseltjie. Maar gee niks, niks vir Korona nie. Weg met jou!
Waar kry ons die hoop? Kyk na die skepping wat hoopvol sug (Romeine 8:22). Die lente sal weer kom. Ons moet self ook met sugte leef (Romeine 8:23). Die Heilige Gees wek die sugte van hoop by ons op. Meer nog: Hy sug ook namens ons by God (Romeine 8:26, 27). Leef elke dag met harte vol hoop.
Prof. Cas Vos
Stellenbosch.